Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel se beskouing

Betaal dit om te spog?

Betaal dit om te spog?

“Ontwerpersjeans of enige ander ontwerpersitem kan iemand wat onseker en onbeduidend voel, hierdie fantastiese gevoel laat ervaar: ‘Ek is iemand en as jy my nie glo nie, kyk na die etiket!’”—Die sielkundige Chaytor D. Mason.

PARTY mense spog met hulle ontwerpersklere of ander weelderige besittings om die bewondering van ander te verkry. Byvoorbeeld, in een Asiatiese land “hou diegene wat onlangs ryk geword het, baie van luukse produkte—ingevoerde Franse handsakke, Italiaanse sportmotors—en hulle hou selfs meer daarvan om met [hulle rykdom] te spog”, sê ’n artikel in The Washington Post.

Daar is natuurlik niks daarmee verkeerd om die vrug van jou arbeid te geniet nie. Die Bybel sê: “Elke mens [moet] eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God” (Prediker 3:13). Maar is dit verstandig om met jou besittings te spog? Wat sê die Bybel?

“Die rykes het baie vriende”

As die rykes of diegene wat voorgee dat hulle ryk is, met hulle besittings spog, trek hulle vriende aan. Maar watter soort vriende? Ons vind ’n leidraad in hierdie wyse Bybelspreuk oor die menslike natuur: “Niemand hou van die armes nie, nie eens hulle bure nie, maar die rykes het baie vriende.”—Spreuke 14:20, Good News Translation.

Dit impliseer die volgende: Die “baie vriende” van die rykes is nie eintlik vriende van die rykes self nie, maar van hulle rykdom. Hulle sogenaamde vriendskap is gegrond op eiebelang, en so ook hulle vleiende woorde. Die Bybel noem sulke vleitaal “’n voorwendsel vir hebsug”, of gierigheid.—1 Tessalonisense 2:5.

Vra jou dus af: ‘Watter soort vriende wil ek hê? Vriende wat my liefhet vir wat ek het of ware vriende wat my liefhet vir wie ek is?’ Die Bybel toon dat ons gedrag ’n invloed kan hê op die soort vriende wat tot ons aangetrokke voel.

“Wysheid is by die beskeidenes”

Nog ’n probleem wat verband hou met die spoggerige vertoon van rykdom, word goed toegelig deur die Bybelverslag oor koning Hiskia, wat in eertydse Jerusalem gewoon het. Eenkeer het Hiskia “alles wat onder sy skatte te vinde was”, vir afgevaardigdes uit Babilon gewys. Sy groot rykdom het die besoekers klaarblyklik beïndruk. Maar dit het dalk ook gierigheid by hulle aangewakker. Nadat hulle vertrek het, het God se profeet Jesaja moedig vir Hiskia gesê dat al sy skatte eendag “na Babilon weggevoer [sou] word”. Daar sou niks oorbly nie. Hierdie woorde is bewaarheid! Jare later het die Babiloniërs teruggekeer en al die rykdom wat aan Hiskia se familie behoort het, weggedra.—2 Konings 20:12-17; 24:12, 13.

Vandag loop mense wat met hulle rykdom spog, eweneens die gevaar om hulle rykdom, of ten minste ’n deel daarvan, te verloor. ’n Verslag oor misdaad en veiligheid in Mexiko het gesê: “Wanneer mense met hulle rykdom spog, trek dit diewe in Mexikostad soos ’n magneet aan. As ’n mens duur juwele en horlosies dra en baie kontant by jou het, trek dit ongewenste aandag.” Dit is beslis baie beter om ag te slaan op die Bybel se raad om nie te “spog oor” jou rykdom nie (Jeremia 9:23). “Wysheid is by die beskeidenes”, sê Spreuke 11:2.

Sien die goeie eienskappe in ander raak

’n Beskeie en nederige persoon het nie ’n egotistiese kyk-na-my-gesindheid nie, maar verbly hom eerder in die goeie eienskappe en sterk punte van ander. Filippense 2:3 sê: “Daar moet geen plek onder julle wees vir wedywering en verwaandheid nie, maar in nederigheid moet julle ander hoër ag as julleself” (The New English Bible). In Galasiërs 5:26 lees ons: “Laat ons nie egotisties word en wedywering met mekaar aanwakker en afgunstig op mekaar wees nie.”

Wil jy vriende hê wat jou liefhet vir wat jy het of vriende wat jou liefhet vir wie jy is?

Mense met goddelike wysheid weet ook dat onselfsugtigheid en wedersydse respek die grondslag van ware vriendskap is en dat hierdie soort vriendskap nie verdwyn wanneer rykdom verdwyn nie. Inteendeel, dit raak sterker met verloop van tyd. “’n Ware metgesel het te alle tye lief”, sê Spreuke 17:17. ’n Wyse persoon streef bowenal daarna om God te behaag. Hy weet dat God nie beïndruk word deur ’n persoon se uiterlike nie, maar dat Hy kyk na “die geheime persoon van die hart”—watter soort persoon ons innerlik is (1 Petrus 3:4). Daarom lê hy hom daarop toe om die aantreklike eienskappe aan te kweek wat kenmerkend is van wat die Bybel “die nuwe persoonlikheid” noem (Efesiërs 4:24). Van hierdie eienskappe word gemeld in Miga 6:8: “Wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?”

In vandag se wêreld is beskeidenheid beslis nie ’n gewilde eienskap nie, en dit verbaas Bybelstudente glad nie. Hoe so? Waar die Bybel “die laaste dae” bespreek, het dit voorspel dat mense oor die algemeen “gierig, grootpraterig, . . . verwaand . . . en opgeblase van trots” sal wees (2 Timoteus 3:1-5, GNT). In so ’n milieu voel mense wat met hulle besittings spog, natuurlik heeltemal tuis. God spoor ons egter aan om ons ‘van hierdie mense af te keer’ sodat ons nie soos hulle word nie.