Gloukoom—Die dief van die gesigsvermoë
Gloukoom—Die dief van die gesigsvermoë
KYK vir ’n oomblik stip na die laaste woord in hierdie sin. Kan jy, sonder om jou oë te beweeg, enigiets bo, onder en aan weerskante van hierdie tydskrif sien? Jy kon waarskynlik, en dit is te danke aan wat as perifere sig bekend staan. Hierdie vermoë maak jou bewus van daardie verdagte persoon wat jou van die kant af nader. Dit help jou om nie oor voorwerpe op die grond te struikel nie en verhoed dat jy teen mure vasloop. En as jy ’n motor bestuur, kan perifere sig jou waarsku dat ’n voetganger die straat gaan oorsteek.
Maar selfs terwyl jy hierdie bladsy lees, kan jou perifere sig stadig besig wees om te verdwyn—sonder dat jy dit eers agterkom. Volgens skatting word 66 miljoen mense regoor die wêreld deur ’n groep oogsiektes geraak wat almal as gloukoom bekend staan. Meer as vyfmiljoen van hulle het heeltemal blind geword, wat gloukoom die derde grootste oorsaak van permanente blindheid maak. “Maar selfs in ontwikkelde lande met openbare opvoedkundige programme wat spesifiek aan gloukoom aandag skenk, bly die helfte van die mense met gloukoom ongediagnoseer”, sê die mediese tydskrif The Lancet.
Wie loop die risiko om gloukoom te ontwikkel? Hoe word dit gediagnoseer, en hoe word dit behandel?
Wat is gloukoom?
Om mee te begin, moet ons ’n paar dinge omtrent ons oë verstaan. ’n Brosjure wat deur die Gloukoomstigting van Australië uitgegee is, verduidelik: “Die oog is ferm as gevolg van druk—die sagte weefsel van die oog word ‘opgepomp’, net soos ’n motorband of ’n ballon.” ’n Pomp in die oog, die siliêre liggaam, laat ’n vloeistof wat die watervog genoem word, vanaf die bloedvate tot in die oog beweeg. “Die vog sirkuleer diep binne-in die oog waar dit die lewende dele daarvan voed en keer dan na die bloedstroom terug deur ’n sifagtige struktuur wat die trabekulêre netwerk genoem word”.
As hierdie netwerk om een of ander rede verstop of vernou raak, sal die druk in die oog styg en uiteindelik die delikate senuweevesels agter in die oog begin beskadig. Hierdie toestand word opehoekgloukoom genoem en maak omtrent 90 persent van alle gloukoomgevalle uit.
Die druk in jou oog, wat die intraokulêre druk genoem word, kan van uur tot uur verskil en word beïnvloed deur ’n verskeidenheid faktore waaronder jou hartklop, die hoeveelheid vloeistowwe wat jy drink en jou liggaamsposisie. Hierdie natuurlike skommeling beskadig nie jou oog nie. Hoë druk in die oog is nie op sigself ’n bewys van gloukoom nie, aangesien “normale” oogdruk van mens tot mens verskil. Hoë intraokulêre druk is egter een van die aanduidings van gloukoom.
’n Seldsame vorm van hierdie siekte word akute of toehoekgloukoom genoem. Anders as by opehoekgloukoom is daar by hierdie soort gloukoom ’n skielike styging in oogdruk. Dit veroorsaak kwaai pyn in die oog, tesame met wasige sig en braking. As dit nie binne ure behandel word nadat die simptome begin het nie, sal dit dikwels blindheid veroorsaak. Nog ’n kategorie word sekondêre gloukoom genoem. Soos die naam aandui, word hierdie soort gloukoom deur ander probleme veroorsaak, soos gewasse, katarakte of oogbeserings. ’n Klein groepie mense word deur die vierde soort gloukoom, genaamd aangebore gloukoom, geraak. Hierdie soort is by geboorte of kort daarna aanwesig, en vergrote oogbolle en ’n sensitiwiteit vir lig by die baba kan ’n aanduiding hiervan wees.
Hoe dit die gesigsvermoë “steel”
Gloukoom kan tot 90 persent van jou gesigsvermoë in een oog steel sonder dat jy daarvan bewus is. Hoe is dit moontlik? Elkeen van ons het ’n blinde kol agter in elke oog. Hierdie kol op die retina, waar senuweevesels bymekaarkom om die oogsenuwee te vorm, het geen liggevoelige selle nie. Jy is egter onbewus van hierdie blinde kol omdat jou brein die vermoë het om die ontbrekende dele van die beeld “in te vul”. Dit is ironies dat dit juis hierdie vermoë van die brein is wat gloukoom so verraderlik maak.
Dr. Ivan Goldberg, ’n vooraanstaande Australiese oftalmoloog het vir Ontwaak! gesê: “Gloukoom word die sluipende dief van die gesigsvermoë genoem omdat jy geen simptome het nie. Die algemeenste vorm van gloukoom is stadig en bestendig en dit beskadig, sonder enige waarskuwing, die senuwee wat die oog aan die brein verbind. Hetsy jou oë water of nie, hetsy hulle droog is of nie, hetsy jy duidelik genoeg kan sien om te lees en skryf of nie, dit het niks met gloukoom te doen nie. Jou oë kan heeltemal gesond voel en tog kan jy baie ernstige gloukoom hê.”
Hoe om die dief te betrap
Daar is ongelukkig nie net een alomvattende toets vir gloukoom nie. ’n Oogspesialis kan begin deur die druk van die vloeistof in jou oë te toets met ’n apparaat wat ’n tonometer genoem word. Die instrument word gebruik om die kornea, of die voorste gedeelte van jou oog, versigtig plat te druk. Die druk wat nodig is om dit te doen,
word gemeet en sodoende kan die druk in jou oog bepaal word. Die oogspesialis kan ook na tekens van gloukoom soek deur apparaat te gebruik waarmee hy kan sien of daar beskadigde weefsel in die senuwee is wat die oog met die brein verbind. Dr. Goldberg sê: “Ons kyk of die senuweevesels of bloedvate agter in die oog ’n ongewone vorm het, omdat dit ’n aanduiding kan wees dat die senuwees beskadig word.”Gloukoom word ook gediagnoseer deur die gesigsveld te toets. Dr. Goldberg verduidelik: “’n Persoon kyk in ’n ronde bak van wit lig. ’n Helderder wit lig word op ’n klein kolletjie in daardie ronde bak geskyn. Die persoon druk ’n knoppie wanneer hy of sy die klein wit liggie kan sien.” As jy die wit liggie nie sien wanneer dit op die buitenste rand van jou gesigsveld is nie, kan dit ’n aanduiding van gloukoom wees. Nuwe apparaat word tans ontwikkel wat moontlik hierdie ietwat langdradige prosedure sal vereenvoudig.
Wie is vatbaar?
Paul is ’n gesonde man in sy vroeë veertigerjare. Hy sê: “Ek het ’n oogkundige besoek om my oë te laat toets vir ’n nuwe bril, en gedurende die besoek het hy my gevra of ek ’n familiegeskiedenis van gloukoom het. Ek het ’n bietjie ondersoek ingestel en uitgevind dat ’n tante sowel as ’n oom van my hierdie kwaal het. Ek is na ’n oogspesialis verwys, wat bevestig het dat ek gloukoom het.” Dr. Goldberg verduidelik: “As jou ma of pa gloukoom het, is die moontlikheid drie tot vyf keer groter dat jy dit sal kry. En as jy ’n broer of ’n suster met gloukoom het, is die moontlikheid tussen vyf en sewe keer groter dat jy dit sal kry.”
Dr. Kevin Greenidge van die Gloukoomstigting in die Verenigde State noem ander risikofaktore en sê: “Laat jou oë elke jaar toets as jy ouer is as 45 en jou voorouers uit Afrika afkomstig is, of as enige van die volgende risikofaktore op jou van toepassing is—’n familiegeskiedenis van gloukoom, bysiendheid, suikersiekte, ’n vroeëre oogbesering of die gereelde gebruik van produkte wat kortisoon/steroïede bevat.” Selfs as nie een van hierdie risikofaktore op jou van toepassing is
nie en jy jonger is as 45, beveel die stigting aan dat jy jou oë nogtans elke vier jaar vir gloukoom laat toets. As jy ouer is as 45, moet jy hierdie ondersoek elke twee jaar laat doen.Behandel dit en beheer dit
Paul se behandeling sluit onder andere in dat hy een maal per dag spesiale oogdruppels gebruik. Paul sê: “Die druppels wat ek gebruik, verminder die produksie van watervog in die oogbol.” Paul het ook behandeling ontvang waartydens ’n laserstraal gebruik is om ongeveer tien klein gaatjies voor in sy oë te “boor” op die plek waar die natuurlike dreineringsgaatjies voorkom. Hy sê: “Toe ek my eerste oog met die laser laat behandel het, was ek redelik gespanne en senuweeagtig, en dit het die ongemak wat ek gevoel het, vererger. Maar toe my tweede oog ’n paar dae later behandel is, het ek geweet wat om te verwag. Ek was baie meer ontspanne, en voor ek dit besef het, was die dokter amper klaar met die operasie.” Die behandeling het gehelp om die druk in Paul se oë te stabiliseer.
Paul is dus positief. Hy sê: “My retinas is net effens beskadig, en gelukkig is my perifere sig nog honderd persent. As ek onthou om my oogdruppels elke dag te gebruik, sal dit waarskynlik so bly.”
Is die “sluipende dief van die gesigsvermoë” besig om jou gesigsvermoë te steel? As jy nog nooit jou oë vir gloukoom laat toets het nie—en veral as jy in een van die risikogroepe is—sal dit verstandig wees om jou dokter vir ’n gloukoomondersoek te vra. Soos dr. Goldberg sê: “Baie van die skade wat gloukoom veroorsaak, kan deur tydige en gepaste behandeling voorkom word.” Ja, jy kan hierdie dief van die gesigsvermoë stuit!
[Venster/Prent op bladsy 26]
Die risiko om gloukoom te ontwikkel, vergroot as
● Jou voorouers uit Afrika afkomstig is
● Iemand in jou familie gloukoom het
● Jy suikersiekte het
● Jy bysiende is
● Jy gereeld en oor ’n lang tydperk kortisoon/steroïede gebruik—wat in sommige mediese rome en asmasproeimiddels gebruik word
● Jy ’n vroeëre oogbesering gehad het
● Jy ouer as 45 is
[Prent]
Gereelde toetse kan ernstige gesigsverlies voorkom
[Diagram/Prente op bladsy 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
OPEHOEKGLOUKOOM
Kornea
Iris
Lens
Retina
Die optiese skyf, of blinde kol, is waar die senuweevesels bymekaarkom om die oogsenuwee te vorm
Die oogsenuwee dra visuele impulse na die brein
Die siliêre liggaam, waar die vloeistof vervaardig word
1. Die watervog is ’n deurskynende vloeistof wat die lens, die iris en die binnekant van die kornea voed. Dit is nie dieselfde as trane nie, wat die buitekant van die oog bevog
2. Die trabekulêre netwerk dreineer die vloeistof
3. As die netwerk verstop of vernou is, styg die druk binne die oog
4. As die druk styg, word die delikate senuweevesels agter in die oog beskadig, wat gloukoom of verswakte sig veroorsaak
[Prente op bladsy 25]
Optiese skyf
Wat jy sou sien
NORMALE SIG
VROEË GLOUKOOM
GEVORDERDE GLOUKOOM
[Erkenning]
Foto’s van optiese skywe: Courtesy Atlas of Ophthalmology