Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Vullis vir voedsel

“Dit is ongelooflik hoe belangrik vullis geword het as ’n voedselbron vir talle voëls en soogdiere”, sê die bioloog Wilfried Meyer. “In sommige plekke verseker vullis die oorlewing van party spesies.” Volgens ’n berig in die nuustydskrif Der Spiegel het ’n wêreldwye studieprojek gevind dat byna 70 soorte voëls en 50 soorte soogdiere van vullis leef. ’n Ware voedselketting het by stortterreine ontstaan. Insekte floreer in die hitte wat deur die verrottende vullis vrygestel word. Voëls en klein soogdiere leef van hierdie insekte en word self deur roofvoëls en ander roofdiere gejag. Dit is interessant dat sommige voëls wat van nature sku is, nie afgeskrik word deur die geraas van die vullisperse en die teenwoordigheid van ander diere en mense by die vullishope nie.

Olifantstruikrowers

Mense is blykbaar nie die enigste struikrowers nie. Volgens die Bangkok Post het olifante ook nou struikrowers geword. Honger olifante uit die oerwoude oos van Bangkok versper die paaie wat deur suikerrietvragmotors gebruik word en steel hulle soet vrag. Ongeveer 130 olifante woon gewoonlik in die Ang Lue Nai-wildreservaat, maar droë weer het die beskikbare plantegroei verminder, wat die honger olifante dwing om buite die oerwoud na kos te soek. Die reservaat se hooftoesighouer, Yoo Senatham, het gerapporteer dat sommige olifante ook al plantasies gestroop het, terwyl ander suikerriet optel wat simpatieke vragmotorbestuurders vir hulle afgooi.

Antibiotika vir diere

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) waarsku al lank teen die oormatige en onnodige gebruik van antibiotika vir plaasdiere wat nie siek is nie. Volgens die Spaanse koerant ABC word die geneesmiddels dikwels by dierevoer gevoeg “om die plaasdiere vinnig vet te maak”. ’n Deense studie het onlangs getoon dat dit winsgewend kan wees om sonder die gebruik van antibiotika met diere te boer. Toe boere opgehou het om antibiotika in dierevoer te gebruik, het hoenderproduksie dieselfde gebly en die koste van varkproduksie het met net 1 persent gestyg. Die WGO het die Deense inisiatief geprys en moedig nou ander lande aan om soortgelyke stappe te neem. Volgens die koerant sal dit “ook die openbare gesondheid tot voordeel strek”.

Oneerlike skaakspelers

“Talle skaakspelers neem die reëls nie altyd baie ernstig op nie”, berig die Frankfurter Allgemeine Zeitung. Een voorbeeld is ’n amateurspeler wat ’n grootmeester gewen het. Maar later is daar ontdek dat hy ’n mikrofoon, oorfone en ’n kamera onder sy lang hare versteek het om met ’n skaakspeler by ’n rekenaar in ’n ander vertrek te kommunikeer. Dit is bekend dat ander toilet toe gaan, die deur toemaak en ’n handrekenaar uithaal om te besluit wat hulle volgende skuif gaan wees. Dié wat op die Internet speel, kan ook skelm wees. Sommige gebruik ’n skaakprogram op hulle rekenaar terwyl hulle op die Internet speel. In ander gevalle het spelers onder twee name deelgeneem en teen hulleself gespeel—die een persoon verloor altyd en sodoende word die ander ’n hoër posisie op die ranglys gegee. “Vir baie gaan dit nie soseer oor die prysgeld nie”, sê die koerant. “In so te sê elke geval is die motivering nie hebsug nie, maar ydelheid.”

Te oud om te leer?

“Wanneer die sesjariges ’n klas bywoon by [’n laerskool in Kenia se Skeurvallei-provinsie], staan een leerling kop en skouers bo die ander uit”, berig die koerant Daily Nation van Nairobi. Dit is ’n 84-jarige man wat onlangs by die graadeentjies aangesluit het sodat “hy kan leer om die Bybel te lees”. Hoewel hy kleinkinders het wat ’n hele paar grade voor hom is, woon hy nogtans die klasse by. “Mense het vir my dinge in verband met die Bybel vertel, en ek weet nie of dit waar is nie, en daarom wil ek die Heilige Boek self lees en uitvind”, het die man vir die Nation gesê. Hy is uitgerus met ’n skooluniform en ander benodigdhede en hy probeer sy bes om by die streng skoolreëls te bly. Maar hy word toegelaat om party dinge anders te doen. Wanneer ander leerlinge oefen en rondhardloop, “word [hy] toegelaat om ligte strekoefeninge te doen”.

Noodlottige aardbewings in 2003

“Volgens die Amerikaanse Departement van Geologiese Opnames (USGS) was 2003 die jaar waarin die meeste mense sedert 1990 in aardbewings dood is; daar was 25 keer meer sterfgevalle as in 2002”, sê ’n persverklaring deur die agentskap. “In 2002 het daar wêreldwyd 1711 mense in aardbewings doodgegaan”, terwyl 43 819 verlede jaar gesterf het. Ongeveer 41 000 van hierdie sterfgevalle was in Iran waar ’n aardbewing van 6,6 die stad Bam op 26 Desember getref het. Die vernietigendste aardbewing, en die enigste een wat as “katastrofies” geklassifiseer kan word, was die een wat Hokkaido, Japan, op 25 September getref het. Dit het ’n intensiteit van 8,3 gehad. Volgens die verslag “spoor die USGS elke dag ongeveer 50 aardbewings op. . . . Elke jaar is daar wêreldwyd gemiddeld 18 groot aardbewings (intensiteit van 7,0 tot 7,9) en een katastrofiese aardbewing (8,0 of hoër). Etlike miljoene aardbewings vind elke jaar in die wêreld plaas, maar baie word nie waargeneem nie omdat dit in afgesonderde gebiede plaasvind of baie klein is.”

Waarom soveel jeugmisdaad?

Spesialiste meen dat disfunksionele gesinne die grondoorsaak van die vinnige toename in kindermisdadigers is. Soos ’n berig in die Suid-Afrikaanse koerant Weekend Witness sê, kom die meeste van hierdie kinders uit gebroke gesinne of gesinne waar albei ouers werk en “te besig, moeg of gejaagd” is om vir hulle te sorg. Volgens die kriminoloog dr. Irma Labuschagne verstaan baie tieners nie eers die konsep van ’n “gesin” nie, en hulle “hunker na liefde en aanvaarding”. Gevolglik probeer hulle dit op ander plekke vind en word hulle maklike prooi vir misdadigerbendes wat hulle ’n samehorigheidsgevoel bied. Ouers, sê die sielkundige dr. Cecelia Jansen, “is so betrokke by hulle eie strewe na status, sukses en rykdom dat hulle nie weet wat in die lewe van hulle gesinslede aangaan nie”. Labuschagne sowel as Jansen beveel aan dat mense “terugkeer na ouderwetse gesinswaardes”, sê die koerant. Dit sê ten slotte: “Daar is geen plaasvervanger vir ’n hegte, gelukkige, normale gesin nie.”