Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Berge van marmer

Berge van marmer

Berge van marmer

Deur Ontwaak!-medewerker in Italië

DIT lyk of daar plek-plek sneeu is op die pieke wat bo Carrara en Pietrasanta uittroon. Maar dit is nie werklik so nie. Die wit kolle is eintlik groot hope marmergroefpuin. Hierdie berge in die Apuaanse Alpe van Toskane, in die noorde van Sentraal-Italië, is ’n seldsame geologiese verskynsel. Hier is die berge van marmer. Daar word nêrens anders in die wêreld so baie van hierdie kosbare gesteente op een plek gevind nie.

Die mens ontgin al sedert die ou tyd marmer uit hierdie berge en maak pilare, panele, vloere en pragtige beeldhouwerke daarvan. Die aansienlike marmerafsettings, die ervaring en kundigheid van plaaslike werkers en die gehalte van die tegnologie wat hier gebruik word, het hierdie streek bekendheid laat verwerf as die wêreld se marmermark. Behalwe die marmer wat van die plaaslike marmergroewe verkry word, word marmer wat van elke uithoek van die aarde af na die hawe Marina di Carrara verskeep word, ook deur die gebied se gespesialiseerde nywerhede verwerk en dan na alle wêrelddele uitgevoer.

’n Baie ou marmertradisie

Die eertydse Romeine het plaaslike marmer vir bouwerk en beeldhouwerk gebruik. Carrara se wit beeldmarmer word as besonder mooi beskou. In 1505 het Michelangelo hierheen gekom om blokke fynkorrelrige marmer sonder enige are of defekte te kies waaruit hy van sy beroemdste meesterstukke gemaak het.

Ontginningsmetodes van die ou tyd het eeue lank so te sê onveranderd gebly. Houtwîe is op strategiese plekke in natuurlike krake ingedryf, of in groewe wat in die rots uitgekap is. Wanneer water oor die wîe gegooi is, het dit geswel en die blok uiteindelik losgebreek. In die middel van die 18de eeu is plofstof vir die eerste keer gebruik, maar dit het soveel van die rots vergruis dat hoogstens ’n derde daarvan gebruik kon word. Yslike stukke marmer—die kolle wat soos sneeu lyk—getuig van die metodes wat lank gelede gebruik is.

Dit was ’n gevaarlike werk om ’n marmerblok met ’n slee en toue teen ’n steil afdraand te vervoer. “As die kabel waaraan die slee vasgemaak was, gebreek het”, verduidelik ’n bron, “het dit ’n gewisse dood beteken vir die spanleier, wat voor die blok gestaan het om instruksies te gee; en daar was min hoop vir enigiemand op sy span wat, asof deur ’n verskriklike sweepslag, deur die kabel getref is.”

Hedendaagse metodes is natuurlik baie anders. Ek het ’n dag in die Carrara-gebied deurgebring om uit te vind hoe marmer vandag verwerk word. Laat ek jou vertel wat ek geleer het.

’n Besoek aan die marmergroef

Ek kry Giovanni, wat my gids gaan wees, in een van die talle marmerwerwe van Carrara. Hierdie werwe hou honderde marmerblokke in voorraad, wat netjies opmekaar gestapel is en gereed is om verkoop of op die terrein verwerk te word. Outomatiese masjiene saag plat stukke van die blokke af, en ander poleer dit. Dit moes alles vroeër met die hand gedoen word.

Gedurende ons besoek aan die groef gebruik ons Giovanni se vierwielaangedrewe voertuig en kort voor lank ry ons om steil haarnaalddraaie tot in ’n smal bergvallei waar stukke wit klip oral rondlê. Die vragmotors wat ons met yslike blokke marmer teen die berg sien afsukkel, kan vragte van tot 30 ton dra.

Ons ry om ’n draai en sien ’n verblindende wit muur wat uit die berg gesny is. Dit is yslik groot en bestaan uit ’n aantal reusagtige trappe, of banke, wat elk ongeveer ses tot nege meter hoog is. Giovanni ry tot op een en hou stil.

Ek kyk om my en sien dat ons in een van die talle groewe in die vallei is. Nog wit littekens, party honderde meters bo ons, steek af teen die res van die bergwand. Dit is al tereg ’n ‘ontsagwekkende maar verskriklike’ skouspel genoem.

My gedagtes word onderbreek deur ’n stootskraper wat met ’n gepunte stuk gereedskap werk om ’n deel van die bank waarop ons is, om te gooi. Die blok, wat heeltemal reghoekig en sowat 11 meter lank, 2 meter breed en 6 meter hoog is, val met ’n slag op ’n hoop gruis wat voorberei is om die val te breek. Maar hoe word die rots in sulke groot blokke verwyder?

Ek kry die antwoord by Franco, Giovanni se pa, wat al sy hele lewe lank in die groewe werk. Hy wys my ’n katrol wat ’n lang staalkabel aandryf. Hiermee sny hulle vertikaal deur die agterste wand van die bank waarop ons staan. ’n Gat van agt sentimeter word horisontaal in die bergwand ingeboor en dan nog een vertikaal van bo, verduidelik hy. Die twee gate moet mekaar kruis. ’n Staalkabel wat met diamante beset is, word dan deur die gate gesteek en in ’n lus vasgemaak, soos ’n reusagtige halssnoer. Die kabel, wat styf gespan en teen ’n hoë spoed deur ’n elektriese motor aangedryf word, sny op die regte plek deur die marmer. Wanneer al die kante van die blok—horisontaal en vertikaal—losgesny is, word die blok omgegooi. Dan word dit met dieselfde kabel in kleiner stukke gesny wat makliker vervoer kan word. Soortgelyke metodes word in ondergrondse groewe hier naby gebruik, waar marmer uit kamers diep in hierdie berge uitgesny word.

Plaaslike fabrieke omskep hierdie grondstof in ’n groot verskeidenheid produkte—teëls, struktuurelemente en sierlae wat in argitektuur gebruik word. Die boubedryf is, en was nog altyd, die vernaamste verbruiker van Carrara se marmerprodukte.

Party werkswinkels vervaardig vloere en meubels vir binne of buite die huis op bestelling. Ander spesialiseer in sierlike kaggelrakke, badkamertoebehore, tafels, en so meer. Plaaslike produkte van enige van die soorte marmer wat op die mark beskikbaar is, met hulle pragtige patrone en kleure, sal openbare pleine sowel as openbare en private geboue versier, waaronder plekke van aanbidding, museums, winkelsentrums, lughawens en wolkekrabbers regoor die wêreld.

Die gebruik van marmer in die boubedryf is interessant, maar ek stel ook belang in hoe dit vir versiering en in kuns gebruik word. Om meer hiervan te leer, bring ek die middag in Pietrasanta deur.

Die marmerwerkswinkels

“Besoek die vakmanne se werkswinkels”, nooi ’n boekie met toeriste-inligting van Pietrasanta, en hulle “sal graag vir jou hulle vaardigheid wys”. Pietrasanta is ’n vriendelike plekkie, en ek stap sommer by ’n paar van die werkswinkels in en om die Middeleeuse sentrum in om die werke te bewonder wat daar voortgebring word.

Hier ontmoet ek beeldhouers van baie lande wat hulle hand aan oorspronklike werke waag, terwyl plaaslike vakmanne, wie se hande en gesigte met ’n laag wit stof bedek is, hard besig is om standbeelde volgens gipsmodelle na te boots. Ateljeevertoonkamers, wat stampvol klassieke en hedendaagse skatte is, lyk soos oorvol museums.

Dit neem baie lank om ’n standbeeld uit te kap. Byvoorbeeld, ’n blok van twee ton sal met ’n masjien tot min of meer die regte vorm gesaag word; daarna kan dit drie tot vyf maande duur om die beeld versigtig uit te beitel. In die proses kan tot ’n ton marmer verwyder word. Basiese gereedskap het vroeër hamers, beitels en vyle ingesluit. Nou word die werk bespoedig deur hoekslypmasjiene en druklugbeitels—die “kleinboeties” van hamerbore wat gebruik word om sypaadjies op te breek—maar die detail moet met die hand voltooi word. Die resultate kan asemrowend mooi wees.

Op baie plekke word die ou kuns om marmer uit te kap, nie meer beoefen nie. Maar die gebied van Carrara en Pietrasanta kan tereg “’n groot marmerakademie” genoem word danksy die gebied se hulpbronne, die kundigheid wat bobaasvakmanne deur eeue se ervaring opgedoen het en die kunstenaars wat hierheen kom om die plaaslike kennis te benut.

[Prent op bladsy 24]

Ondergrondse groef

[Prente op bladsy 24, 25]

Kabels wat met diamante beset is, word gebruik om blokke marmer te sny

[Prent op bladsy 24, 25]

Marmergroewe, Carrara, Italië

[Prent op bladsy 25]

’n Marmerbeeld van keiser Augustus, eerste eeu G.J.

[Erkenning]

Scala/Art Resource, NY

[Foto-erkenning op bladsy 23]

Studio SEM, Pietrasanta