Moses—Mens of mite?
MOSES is in die skadu van die dood gebore. Sy volk was ’n groep nomadiese families wat hulle saam met hulle vader Jakob, of Israel, in Egipte gevestig het om aan ’n hongersnood te ontkom. Hulle het dekades lank in vrede met hulle Egiptiese bure gelewe. Maar toe het sake verander. ’n Gerespekteerde geskiedkundige verslag sê: “Daar [het] ’n nuwe koning oor Egipte opgestaan . . . En hy het vir sy volk gesê: ‘Kyk! Die volk van die kinders van Israel is talryker en magtiger as ons. Kom! Laat ons op sluwe wyse met hulle handel, sodat hulle nie kan vermeerder . . . nie.’” Wat was die plan? Om die bevolkingsaanwas van die Israeliete te beheer deur hulle “onder tirannie slawearbeid [te] laat verrig” en dan die Hebreeuse vroedvroue te beveel om enige seuntjies wat gebore word, dood te maak (Eksodus 1:8-10, 13, 14). Weens die moed van hulle vroedvroue wat geweier het om die bevel te gehoorsaam, het die Israeliete nietemin gefloreer. Gevolglik het Egipte se koning beveel: “Al die pasgebore seuntjies moet julle in die Nylrivier gooi.”—Eksodus 1:22.
’n Israelitiese egpaar, Amram en Jogebed, het “nie die bevel van die koning gevrees” nie (Hebreërs 11:23). Jogebed het geboorte gegee aan ’n seun wat later as “goddelik mooi” a beskryf is (Handelinge 7:20). Miskien het hulle op die een of ander manier besef dat hierdie kind deur God begunstig is. Hoe dit ook al sy, hulle het geweier om hulle kind oor te gee om doodgemaak te word. Hulle het besluit om hom weg te steek, al het dit hulle eie lewe in gevaar gestel.
Ná drie maande kon Moses se ouers hom nie langer wegsteek nie. Hulle moes noodgedwonge iets anders probeer. Jogebed het die baba in ’n papirusmandjie op die Nylrivier gesit. Sonder dat sy dit besef het, het sy gebeure aan die gang gesit wat daartoe sou lei dat hy ’n geskiedkundige persoon word!—Eksodus 2:3, 4.
Geloofwaardige gebeurtenisse?
Baie hedendaagse geleerdes verwerp hierdie gebeurtenisse as versinsels. “Om die waarheid te sê”, sê Christianity Today, “is geen greintjie regstreekse argeologiese bewys gevind van [die jare] wat die kinders van Israel in Egipte gebly het nie.” Hoewel daar dalk nie regstreekse fisiese bewyse is nie, is daar baie onregstreekse bewyse dat die Bybelverslag geloofwaardig is.
Die Egiptoloog James K. Hoffmeier sê in sy boek Israel in Egypt: “Argeologiese gegewens toon duidelik dat die volke van die Levant [lande wat aan die oostelike deel van die Middellandse See grens] Egipte dikwels besoek het, veral weens klimaatprobleme wat droogte tot gevolg gehad het . . . Egipte was dus van omstreeks 1800 tot 1540 v.C. ’n aantreklike plek vir die Semitiese mense van Wes-Asië om na te migreer.”Daar word ook al lank erken dat die Bybel se beskrywing van Egiptiese slawerny juis is. Die boek Moses—A Life sê: “Dit lyk of die Bybelverslag van die onderdrukking van die Israeliete bevestig word deur ’n bekende graftekening uit eertydse Egipte, wat in duidelike
besonderhede uitbeeld hoe ’n groep slawe roustene maak.”Die Bybel se beskrywing van die klein mandjie wat Jogebed gebruik het, klink ook eg. Die Bybel sê dat dit van papirus gemaak is, wat volgens Cook se Commentary “gewoonlik deur die Egiptenare vir ligte en vinnige bote gebruik is”.
Maar is dit nie moeilik om te glo dat die leier van ’n nasie sou beveel dat babas koelbloedig vermoor word nie? Die geleerde George Rawlinson sê: “Kinderslagting . . . was op verskillende tye en plekke baie algemeen en is as ’n kleinigheid beskou.” Trouens, ’n mens hoef nie ver te soek om hedendaagse voorbeelde van massamoord te vind wat net so skrikwekkend is nie. Die Bybelverslag is dalk ontstellend, maar dit is beslis geloofwaardig.
Aangeneem as lid van Farao se huishouding
Die lot van Jogebed se baba is nie aan die toeval oorgelaat nie. Sy het die mandjie “tussen die riete aan die oewer van die Nylrivier gesit”. Dit was waarskynlik ’n plek waar sy gehoop het dat dit ontdek sou word. Farao se dogter het moontlik gereeld daar gaan bad. b—Eksodus 2:2-4.
Die klein mandjie is gou raakgesien. “Toe [Farao se dogter] dit oopmaak, het sy die kind gesien, en kyk, die seuntjie het gehuil. Daarop het sy medelye vir hom gevoel, hoewel sy gesê het: ‘Dit is een van die kinders van die Hebreërs.’” Die Egiptiese prinses het dus besluit om hom aan te neem. Die naam wat sy ouers hom oorspronklik gegee het, is lankal vergete. Vandag staan hy wêreldwyd bekend onder die naam wat sy aanneemmoeder hom gegee het—Moses. c—Eksodus 2:5-10.
Maar is dit nie vergesog om te glo dat ’n Egiptiese prinses so ’n kind sou inneem nie? Nee, want die Egiptiese godsdiens het geleer dat goeie dade ’n vereiste is om in die hemel in te gaan. Wat die aanneming self betref, sê die argeoloog Joyce Tyldesley: “Egiptiese vroue het gelykheid met Egiptiese mans verkry. Hulle het dieselfde wetlike en ekonomiese regte geniet, ten minste in teorie, en . . . vroue kon aannemings doen.” Die ou Aannemingpapirus verskaf in werklikheid dokumentêre bewys van ’n Egiptiese vrou wat haar slawe aangeneem het. Oor die feit dat Moses se moeder as soogvrou gehuur is, sê The Anchor Bible Dictionary: “Die feit dat Moses se biologiese moeder betaal is om hom te soog . . . , kom ooreen met soortgelyke reëlings in Mesopotamiese aannemingskontrakte.”
Sou Moses se Hebreeuse erfenis as ’n diepe geheim vir hom weggesteek word noudat hy aangeneem is? Party Hollywoodrolprente het dit so laat lyk. Die Skrif toon dat dit nie die geval was nie. Sy suster, Mirjam, was verstandig en het gereël dat Moses se eie moeder, Jogebed, hom soog. Hierdie godvresende vrou sou beslis nie die waarheid van haar seun weerhou het nie! En aangesien kinders in die ou tyd dikwels etlike jare lank geborsvoed is, het Jogebed oorgenoeg geleentheid gehad om Moses van ‘die God van Abraham, Isak en Jakob’ te leer (Eksodus 3:6). Hierdie geestelike grondslag het Moses baie gehelp, want nadat hy aan Farao se dogter gegee is, “is Moses in al die wysheid van die Egiptenaars onderrig”. Die bewering van die geskiedskrywer Josefus dat Moses in ’n oorlog teen Etiopië tot die rang van generaal gevorder het, kan nie bevestig word nie. Maar die Bybel sê wel dat Moses “kragtig in sy woorde en dade” was. d—Handelinge 7:22.
Teen die tyd dat Moses 40 was, was hy waarskynlik gereed om ’n vooraanstaande Egiptiese
leier te word. Hy kon mag en rykdom verkry het as hy ’n lid van Farao se huishouding gebly het. Toe het iets gebeur wat sy lewe verander het.Ballingskap in Midian
Eendag het Moses “’n sekere Egiptenaar gesien wat ’n sekere Hebreër, een van sy broers, slaan”. Moses het jare lank die voordele van sy Hebreeuse sowel as sy Egiptiese bande geniet. Maar toe Moses sien hoe ’n mede-Israeliet geslaan word—miskien op so ’n manier dat sy lewe in gevaar was—is hy beweeg om ’n belangrike keuse te maak (Eksodus 2:11). Hy het “geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word en verkies om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word”.—Hebreërs 11:24, 25.
Moses het vinnig opgetree en iets gedoen wat nie ongedaan gemaak kon word nie: “Hy [het] die Egiptenaar doodgemaak en hom in die sand weggesteek” (Eksodus 2:12). Dit was nie die daad van iemand wat “tot skielike woedeuitbarstings geneig is”, soos een kritikus aangevoer het nie. Al was dit ongepas, was dit waarskynlik ’n daad van geloof in God se belofte dat Israel uit Egipte verlos sou word (Genesis 15:13, 14). Miskien het Moses weens ’n gebrek aan insig gedink dat sy dade sy volk tot opstand sou aanspoor (Handelinge 7:25). Maar tot sy teleurstelling het sy mede-Israeliete geweier om sy leierskap te aanvaar. Toe Farao oor die moord ingelig is, moes Moses noodgedwonge vlug en ’n balling word. Hy het hom in Midian gevestig en getrou met Sippora, die dogter van ’n nomadiese owerste met die naam Jetro.
Moses het 40 jaar lank as ’n eenvoudige herder gelewe, sonder enige verdere verwagting om ’n verlosser te wees. Maar eendag het hy Jetro se kuddes na ’n plek naby die berg Horeb aangedryf. Daar het Jehovah se engel in ’n brandende bos aan Moses verskyn. Stel jou die toneel voor: “Jy moet my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uitlei”, beveel God. Maar die Moses wat antwoord, is huiwerig en sonder selfvertroue. “Wie is ek”, vra hy, “dat ek na Farao toe sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte moet uitlei?” Hy onthul selfs ’n persoonlike probleem wat party rolprentvervaardigers verberg het: Hy het blykbaar ’n spraakgebrek. Hoe verskil Moses tog van die helde van ou mites en legendes! Die 40 jaar wat hierdie man ’n herder was, het hom nederig en sagmoedig gemaak. Al het Moses nie baie selfvertroue nie, het God volle vertroue dat hy geskik is om ’n leier te wees!—Eksodus 3:1–4:20.
Verlossing uit Egipte
Moses verlaat Midian en verskyn voor Farao, waar hy eis dat God se volk vrygelaat word. Wanneer die hardkoppige koning weier, word Eksodus, hoofstukke 5-13.
die land deur tien verwoestende plae getref. Die tiende plaag lei tot die dood van Egipte se eersgeborenes, en ’n gebroke Farao laat uiteindelik die Israeliete vry.—Hierdie gebeurtenisse is vir die meeste lesers baie bekend. Maar is enigeen van hulle geskiedkundig? Party voer aan dat die verslag ’n versinsel moet wees aangesien die Farao se naam nie genoem word nie. e Maar Hoffmeier, wat vroeër aangehaal is, sê dat Egiptiese skrywers dikwels die name van Farao se vyande doelbewus weggelaat het. Hy redeneer: “Geskiedskrywers sou beslis nie betwis dat Toetmosis III se Megiddo-veldtog werklik plaasgevind het omdat die name van die konings van Kades en Megiddo nie opgeteken is nie.” Hoffmeier doen aan die hand dat Farao se naam “om goeie teologiese redes” nie genoem word nie. Een rede is dat die verslag, deur nie Farao se naam te noem nie, die aandag op God vestig, nie op Farao nie.
Hoe dit ook al sy, kritici weier om te aanvaar dat daar ’n grootskaalse uittog van Jode uit Egipte was. Die geleerde Homer W. Smith het aangevoer dat daar “beslis baie verwysings [na so ’n grootskaalse trek] in Egiptiese of Siriese geskiedenis sou wees . . . Dit is waarskynliker dat die legende van die uittog ’n verdraaide en
verdigte verslag is van betreklik min lede wat uit Egipte na Palestina gevlug het.”Daar is weliswaar nog geen Egiptiese verslag van hierdie gebeurtenis gevind nie. Maar die Egiptenare het nie gehuiwer om geskiedkundige verslae te verander as die waarheid ’n verleentheid of in stryd met hulle politieke belange was nie. Toe Toetmosis lll aan bewind gekom het, het hy die gedagtenis aan sy voorganger, Hatsjepsoet, probeer uitwis. Die Egiptoloog John Ray sê: “Haar inskripsies is uitgewis, haar gedenknaalde met ’n muur toegebou en haar monumente vergeet. Haar naam verskyn nie in latere gedenkrolle nie.” Selfs in hedendaagse tye is soortgelyke pogings aangewend om feite wat verleentheid bring, te verander of weg te steek.
Wat die gebrek aan argeologiese bewyse vir die trek deur die wildernis betref, moet ons onthou dat die Jode nomades was. Hulle het geen stede gebou nie; hulle het geen gewasse geplant nie. Hulle het vermoedelik net voetspore agtergelaat. Nogtans kan oortuigende bewyse van daardie trek in die Bybel gevind word. Dwarsdeur hierdie heilige boek word daarna verwys (1 Samuel 4:8; Psalm 78; Psalm 95; Psalm 106; 1 Korintiërs 10:1-5). Dit is betekenisvol dat Jesus Christus ook getuig het dat die gebeure in die wildernis plaasgevind het.—Johannes 3:14.
Die Bybelverslag van Moses is dus sonder enige twyfel geloofwaardig, die waarheid. Maar hy het lank gelede gelewe. Watter uitwerking kan Moses vandag op jou lewe hê?
a Letterlik “mooi vir die God”. Volgens The Expositor’s Bible Commentary kan die uitdrukking verwys na nie net die kind se uitsonderlike fisiese kenmerke nie, maar ook na “die eienskappe van sy hart”.
b Dit “was ’n algemene gebruik in eertydse Egipte” om in die Nyl te bad, sê Cook se Commentary. “Die Nyl is aanbid as iets wat . . . uit Osiris voortkom, en ’n besondere krag wat lewe en vrugbaarheid skenk, is aan die water daarvan toegeskryf.”
c Die etimologie van hierdie naam lok bespreking uit onder geleerdes. In Hebreeus beteken Moses “Uitgetrek; Uit water gered”. Die geskiedskrywer Flavius Josefus het aangevoer dat Moses ’n samestelling van twee Egiptiese woorde was wat “water” en “gered” beteken. Vandag meen party geleerdes ook dat die naam Moses van Egiptiese oorsprong is, maar hulle dink dat dit heel waarskynlik “Seun” beteken. Hierdie redenasie is egter gegrond op die feit dat die woord “Moses” soos party Egiptiese name klink. Aangesien niemand werklik weet hoe eertydse Hebreeus of Egipties uitgespreek is nie, berus sulke teorieë op veronderstellings.
d Die boek Israel in Egypt sê: “Die hele idee dat Moses aan die Egiptiese hof grootgemaak is, klink vergesog. Maar ’n nadere ondersoek van die koninklike hof in die Nuwe Ryk toon dat dit nie so vergesog is nie. Toetmosis III . . . het die gebruik ingestel om die vorste van onderworpe konings van Wes-Asië na Egipte te bring om opleiding in die Egiptiese lewenswyse te ontvang . . . Buitelandse vorste en vorstinne was dus niks vreemds aan die Egiptiese hof nie.”
e Party geskiedskrywers sê dat die Farao van Eksodus Toetmosis lll was. Ander voer aan dat dit Amenhotep II, Ramses II, ensovoorts, was. Omdat Egiptiese tydrekening so deurmekaar is, is dit onmoontlik om met enige sekerheid vas te stel wie hierdie Farao was.