Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die vergroening van die Amasonewoud

Die vergroening van die Amasonewoud

Die vergroening van die Amasonewoud

DEUR ONTWAAK!-SKRYWER IN BRASILIË

GEDURENDE die 1990’s het die wêreld elke jaar miljoene hektaar natuurlike woud verloor, het die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-Organisasie berig. In Brasilië se Amasonestreek alleen het oorverdowende kettingsae en knetterende vure reeds ’n deel van die reënwoud groter as Duitsland in ’n blote weiveld verander. In plaas van ’n onafgebroke landskap van boomtoppe word die wouddak nou deur uitgestrekte gebiede van gekraakte klei onderbreek wat yl bedek is met onkruid en boomstompe wat in die son bak.

Hoewel hierdie voortgesette verwoesting van die woud verontrustend is, is daar ’n straaltjie van hoop. Een belowende program het alreeds resultate opgelewer. Dit word agrobosbou genoem, en een bron beskryf dit as “’n stelsel waarvolgens bosbou met die aanplant van oesgewasse of weiveld op ’n ekologies . . . volhoubare wyse gekombineer word”. Hoe werk agrobosbou? Wat het dit bereik? Watter vooruitsigte hou dit dalk vir die toekoms in? Om uit te vind, het Ontwaak! die Nasionale Instituut vir Navorsing in die Amasone (INPA) in Manaus, die hoofstad van Brasilië se Amazonas-staat, besoek.

Die teleurstellende uitweg

Johannes van Leeuwen, ’n Hollandse landboukundige in die INPA se Afdeling van Landboukunde, werk die afgelope 11 jaar al met boere in die Amasone. Maar hoe het soveel boere in die eerste plek in die Amasonewoud beland? Omdat grootskaalse gemeganiseerde boerdery in die middel en suide van Brasilië kleinboere van hulle land en bestaansmiddel beroof het, het hulle gemigreer. Ander boere wat jute verbou het, wat in die vervaardiging van goiingsakke gebruik word, het gesien hoe hulle bestaansmiddel verdwyn namate sakke deur plastiek vervang is. Boere wat in droogtegeteisterde gebiede gewoon het, is gedwing om te trek en na vrugbaarder grond te soek. Maar waarheen kon hulle gaan? Toe hulle beloftes hoor van land, behuising en vrugbare grond in die Amasone, het hulle na die reënwoud verhuis en ’n nuwe lewe daar begin.

Maar die boere het gou uitgevind dat hulle hulle in ’n gebied met ’n hoë reënval gevestig het waar die humiditeit hoog, die klimaat warm en die grond onvrugbaar is. Binne twee tot vier jaar was die grond heeltemal uitgeput en het dieselfde probleem ontstaan: arm mense op onvrugbare grond. Die desperate boere het die probleem probeer oplos deur nog woudgebied skoon te maak sodat dit as landbougrond kon dien.

Kleinboere is natuurlik nie die vernaamste oorsaak van die vernietiging van die Amasonewoud nie. Groot beesplase, landbouondernemings, myne, houtnywerhede en hidro-elektriese dambouprojekte het die meeste van die skade aangerig. Maar die toevloei van kleinboere en die kap-en-brand-boerderymetode wat hulle gebruik, het nogtans tot die vernietiging van die woud bygedra.

“Lewende biblioteke” word geraadpleeg

“Ongeag hoe groot hulle uitwerking op die woud is”, sê Van Leeuwen, “hierdie arm boere is nou hier en hulle kan nêrens anders heen gaan nie. As ons die ontbossing wil vertraag, moet ons hulle dus help om van hulle land te lewe sonder dat hulle nog van die woud afkap.” En dit is waar die agrobosbouprogram sy bydrae lewer, want dit leer boere ’n boerderymetode wat grondverarming teëwerk en stel hulle in staat om dieselfde ontboste grond baie jare lank te benut. Hoe het die navorsers die inligting vir die program ingesamel?

Jare van opnames, vraelyste en die insameling van plant- en grondmonsters het die INPA se agrobosbouprogram voorafgegaan. Waardevolle inligting is veral verkry van onderhoude met die “lewende biblioteke”—Indiane en caboclos, mense met gemengde wit, swart en Indiane-voorouers wie se voorvaders hulle in die Amasonebekken gevestig het.

Hierdie bewoners van die Amasone het ’n skatkamer van kennis. Hulle is vertroud met die plaaslike klimaat en die grondsoorte—swartgrond, rooiklei, witklei, rooigrond en ’n mengsel van sand en klei—sowel as die verskeidenheid inheemse vrugte, speserye en geneeskragtige plante wat in die woud groei. Deur van hierdie kennis gebruik te maak, het landboukundiges en boere ’n navorsingspan geword—’n spanpoging wat die gehalte van die program verbeter het.

Die woud is nie ’n myn nie

Die agrobosbouprogram is geleidelik in werking gestel. Die eerste stap was om die boere daarvan te oortuig om nie die woud as ’n myn te beskou nie—wat bewerk en dan verlaat word nie—maar om dit as ’n hernieubare hulpbron te beskou. Daarna is hulle aangeraai om nie net kassawe, piesangs, mielies, rys, bone en ander vinnig groeiende gewasse te plant nie, maar ook bome. “Bome?” het die boere gevra. “Waarom?”

Omdat boere dikwels van gebiede kom waar bome nie ’n rol in landbou speel nie en omdat hulle ook nie vertroud was met die boomsoorte in die Amasone nie, het navorsers vir hulle presies verduidelik watter voordele dit inhou om bome te plant. Hulle het verduidelik dat woudgrond nie die voedingstowwe bevat wat gewasse nodig het nie. Nog voordat voedingstowwe deur gewasse soos byvoorbeeld mielies opgeneem kan word, spoel die reën dit weg. In teenstelling hiermee kan bome voedingstowwe opneem en ’n voorraad daarvan opbou en die grond vrugbaar hou. Daarbenewens voorsien bome voer en skadu vir diere. Boere kan ook bome as lewende heinings gebruik om hulle plase af te baken. En vrugtebome kan natuurlik vrugte en hout verskaf wat ’n bron van inkomste is.

Die boere is ook aangemoedig om verskeie boomsoorte en -variëteite te plant. Waarom? Sodat hulle ’n wye verskeidenheid vrugte en hout kan oes. Sodoende voorkom die boer dat hy ’n groot oes van net een of twee vrugtesoorte het wat hy teen ’n lae prys moet verkoop omdat almal dieselfde produk op dieselfde tyd verkoop.

Nuwe program werp vrugte af

Watter soort bome word geplant? “Tans gebruik ons tussen 30 en 40 van die vrugtebome wat hier gemeld word”, sê Van Leeuwen terwyl hy ’n lys van 65 bome met eksotiese name oorhandig. Om te toon dat die program werk, sprei Van Leeuwen verskeie foto’s uit van dieselfde stuk skoongemaakte woud wat op verskillende tye geneem is.—Sien die venster “Hoe die woud kan herstel”.

’n Besoek aan die markte in Manaus toon dat die nuwe agrobosbouprogram vrugte afwerp. In hierdie markte is meer as 60 verskillende soorte plaaslik verboude vrugte reeds te koop. Wat die toekoms betref, hoop landboukundiges dat ontbossing al hoe stadiger sal plaasvind namate agrobosbou al hoe dieper wortelskiet. Wanneer ’n boer immers geleer het hoe om ’n ou plaas te herbenut, sal hy dalk nie die woud afkap om ’n nuwe plaas te begin nie.

Hierdie prysenswaardige pogings sal waarskynlik nie die wêreldwye bedreiging vir die aarde se ekologie uit die weg ruim nie. Maar dit toon wat gedoen kan word wanneer ons kosbare hulpbronne met respek behandel word.

[Venster/Prente op bladsy 24]

Lemoen en asarol, staan terug

Die lemoen, daardie bekende simbool van vitamien C, kan nie vergelyk word met ’n vrug wat “die nuwe koningin van vitamien C” genoem word nie. Selfs die asarol, wat koning gekraai het onder die vrugte wat ryk is aan vitamien C, moet terugstaan. Wie is die nuwe koningin? ’n Klein maar kragtige pers vruggie wat omtrent so groot soos ’n druiwekorrel is en natuurlik voorkom in die Amasone se vloedvlaktes. Wat word dit genoem? Camu-camu. Verdien dit die troon? ’n Brasiliaanse tydskrif sê 100 gram lemoen bevat 41 milligram vitamien C, terwyl 100 gram asarol 1 790 milligram vitamien C bevat. Maar dieselfde hoeveelheid camu-camu het ’n ongelooflike 2 880 milligram vitamien C—70 keer meer as in lemoene!

[Erkenning]

Asarol en camu-camu: Silvestre Silva/Reflexo

[Venster/Prente op bladsy 25]

Die kuns om bome te plant

Nadat boere ingestem het om sekere aspekte van die agrobosbouprogram te volg, kan Johannes van Leeuwen hulle ’n meer gedetailleerde voorstel gee—’n uitleg van hulle toekomstige boomplaas. Bome word nie onoordeelkundig gekies en saam geplant nie. Rekenaarsimulasies van agro-ekosisteme word gebruik om hulle te help bepaal watter boomsoorte geplant moet word en hoe hulle uitgelê moet word. Dit is ’n kuns om klein, middelslag- en groot bome in groepe uit te lê.

Die eerste groep bome, wat koejawel-, guarana- en cupuaçu-bome insluit, word byvoorbeeld na aan mekaar geplant. Hierdie bome bly klein en begin vroeg reeds vrugte dra. Die tweede groep, dié van middelslaggrootte, soos biribá, avokado en murumurupalms, sal meer ruimte nodig hê. In hierdie groep begin die bome gewoonlik later as in die eerste groep vrugte voortbring. Die derde groep, die groot bome soos die Brasiliaanse neut, pekea en die mahonieboom, het selfs meer ruimte nodig. Party van die bome in hierdie laaste groep dra vrugte, ander voorsien waardevolle hout en nog ander lewer albei produkte. Wanneer al drie groepe bome saam groei, lyk die plaas soos ’n natuurlike woud.

[Prente]

Johannes van Leeuwen (ver regs)

’n Mark in Manaus met plaaslik gekweekte vrugte

[Erkenning]

J. van Leeuwen, INPA, Manaus, Brazil

[Venster/Prente op bladsy 26]

Hoe die woud kan herstel

1. Februarie 1993—Hierdie deel van die woud in die sentrale deel van die Amasone is in September 1992 afgekap en gebrand. In Januarie 1993 is pynappelplante geplant. Een maand later is vrugtebome ook geplant.

2. Maart 1994—Die pynappelplante het gegroei, en die vrugtebome word sigbaarder. Klein merkers aan stokke wat langs die bome staan, identifiseer hulle as abiu, Brasiliaanse neute en perskepalmbome, om maar ’n paar te noem. Die feit dat die boere die grond geskoffel het, was ook goed vir die bome. Om as ’t ware hulle dankbaarheid te betoon, het die bome begin om die vrugbaarheid van die grond te herstel.

3. April 1995—Die vinnig groeiende gewasse is geoes, verbruik of verkoop, en ’n verskeidenheid vrugtebome hou aan groei.

[Erkenning]

Foto’s 1-3: J. van Leeuwen, INPA-CPCA, Manaus, Brazil