Wat sê die Bybel oor die wêreldwye waterkrisis?
Almal van ons het skoon water nodig om te lewe. Maar die VN se sekretaris-generaal António Guterres het gewaarsku: “Ons staan voor ’n ernstige waterkrisis omdat die behoefte na water wêreldwyd al hoe groter word.” Miljarde mense regoor die wêreld kan al klaar nie skoon drinkwater in die hande kry nie.
Sal ons ooit genoeg water vir almal hê? Of sal ons altyd ’n waterkrisis hê? Wat sê die Bybel?
Wat die Bybel belowe oor die beskikbaarheid van water
Die Bybel sê dat daar eendag nie meer ’n watertekort sal wees nie. Om die waarheid te sê, daar sal ’n oorvloed skoon, vars water wees.
“Waters sal in die wildernis vloei, en strome in die woestyn. Die kurkdroë grond sal verander in ’n poel vol riete, en die dorre land in waterfonteine.” – Jesaja 35:6, 7.
Hoekom kan ons hierdie Bybelbelofte glo? Kyk na wat die Bybel sê oor een aspek van hoe ons planeet ontwerp is.
Wat die Bybel sê oor die aarde en sy waterkringloop
God het die aarde ‘nie verniet geskep nie, maar het dit gemaak om bewoon te word’. – Jesaja 45:18.
Omdat God die aarde gemaak het om lewe te onderhou, het hy natuurlike stelsels in plek gesit om ’n oorvloed vars water te voorsien.
“[God] trek die waterdruppels op, en dit kondenseer en vorm mis en reën. Dit stroom uit die wolke, en reën val op die mensdom.” – Job 36:27, 28.
Hierdie teks beskryf op ’n eenvoudige manier hoe God ’n natuurlike en betroubare waterstelsel ontwerp het waar water sirkuleer en weer gebruik kan word. Water verdamp van die land en die see, kondenseer en val dan as reëndruppels sodat daar altyd skoon, vars water beskikbaar is vir mense en diere. – Prediker 1:7; Amos 5:8.
“Ek [sal] vir julle reën op die regte tyd gee, en die land sal sy opbrengs lewer, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee.” – Levitikus 26:4.
God het belowe om die eertydse Israeliete, wat ’n volk van landbouers was, te seën met ’n vrugbare oes deur gereeld vir hulle van water te voorsien. Hy weet dat ons genoeg reën op die regte tyd nodig het sodat plante kan groei wat ons van kos voorsien.
Wat God vir eertydse Israel gedoen het, sal hy binnekort vir die hele aarde doen (Jesaja 30:23). Intussen neem waterkrisisse in baie dele van die wêreld toe en is ’n tekort aan reën net een deel van die probleem. Wat sê die Bybel nog oor die oplossing vir vandag se waterprobleme?
Hoe die waterkrisis sal eindig
Die Bybel sê dat God, deur middel van sy Koninkryk, die probleme sal oplos wat ons planeet raak, insluitende die waterkrisis in ons tyd (Matteus 6:9, 10). God se Koninkryk is ’n hemelse regering wat oor die aarde sal regeer (Daniël 2:44; Openbaring 11:15). En God se Koninkryk sal doen wat menseregerings nie kan regkry nie – dit sal die oorsake van ons waterprobleme verwyder.
Probleem: Klimaatsverandering dra by tot ’n ernstige wanbalans in die waterkringloop. Die gevolge sluit ernstige droogtes sowel as groot oorstromings in, of dit nou as gevolg van swaar reën of stygende seevlakke is.
Oplossing: God se Koninkryk sal die natuurlike balans van die omgewing regmaak sodat ons planeet kan herstel. God het belowe: “Kyk! Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:5). Baie droë lande sal volop vars water hê, wat lewende dinge sal laat groei selfs op plekke wat nou onbewoonbaar is (Jesaja 41:17-20). God se Koninkryk, met Jesus Christus as Koning, sal ook die aarde se natuurkragte beheer.
Terwyl Jesus op die aarde was, het hy ’n skrikwekkende storm gekalmeer, en op hierdie manier gee dit ’n mens ’n idee van hoeveel krag God hom gegee het (Markus 4:39, 41). Wanneer Christus as Koning van God se Koninkryk regeer, sal natuurrampe ophou. Mense sal ware vrede en veiligheid geniet sonder om bang te wees vir enige soort ramp.
Probleem: Gierige korporasies en mense wat nie dink aan die gevolge van hulle aksies nie, besoedel riviere, mere en ondergrondse opgaardamme, wat ook bydra tot die tekort aan skoon water.
Oplossing: God sal die aarde skoonmaak en sal die skade herstel wat aan die riviere, die mere, die see en die grond gedoen is. Die aarde sal ’n paradys word. Die Bybel sê op ’n poëtiese manier: “Die wildernis en die dorre land sal juig, en die woestyn sal vreugdevol en vol blomme wees.” – Jesaja 35:1.
Wat sal gebeur met dié wat nie omgee oor die omgewing of hulle medemens nie? God het belowe “om die vernietigers van die aarde te vernietig”. – Openbaring 11:18; Spreuke 2:21, 22.
Probleem: Waterhulpbronne word op ’n slegte manier bestuur, en as gevolg hiervan mors mense meer water as wat die aarde kan voorsien.
Oplossing: Danksy die Koninkryk sal die wil van God – nie dié van selfsugtige mense nie – “plaasvind op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Die mense waaroor God se Koninkryk sal regeer, sal die heel beste opleiding kry. Jesaja 11:9 sê: “Die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah.” a Die mens sal, met verhewe kennis en ’n diep liefde vir God en al sy skeppingswerke, op ’n perfekte manier vir ons pragtige planeet en sy hulpbronne sorg.
Om meer uit te vind oor wat God se Koninkryk sal doen, sien die artikel “Wat sal God se Koninkryk tot stand bring?”
Gaan na die Bybelboek Jesaja hoofstuk 35 om self te lees hoe die aarde in ’n paradys verander sal word.
Kyk na die video Hoekom het God die aarde geskep? om meer te leer oor God se doel vir die aarde en die mens.
a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?”