Twee vertalers wat God se naam in die Nuwe Testament teruggesit het
Een van die eerste gebede wat baie mense leer, is die Onse Vader-gebed, wat Jesus vir sy volgelinge geleer het. Hierdie gebed word gevind in wat gewoonlik die Nuwe Testament genoem word. Die gebed begin met die woorde: “Ons Vader in die hemel, laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Maar God se naam, wat in Engels as “Jehovah” of soms “Yahweh” weergegee word, word selde in Engelse vertalings van die Nuwe Testament gevind. Tog sluit hierdie vertalings die name van valse gode, soos Zeus, Hermes en Artemis, in. So moet dit nie ook die naam van die ware God en die Skrywer van die Bybel noem nie? – Handelinge 14:12; 19:35; 2 Timoteus 3:16.
Die Engelse Bybelvertalers Lancelot Shadwell en Frederick Parker het geglo dat God se naam in die Nuwe Testament teruggesit moet word. Hoekom word die woord “teruggesit” gebruik? Omdat hulle tot die gevolgtrekking gekom het dat God se naam oorspronklik daar verskyn het, maar later uitgehaal is. Hoekom het hulle tot hierdie gevolgtrekking gekom?
Shadwell en Parker het geweet dat die bestaande manuskripte van wat dikwels die Ou Testament genoem is en wat oorspronklik meestal in Hebreeus geskryf was, God se persoonlike naam duisende kere ingesluit het. So hulle het gewonder hoekom die manuskripte van die Nuwe Testament wat hulle gehad het, God se volle naam weggelaat het. a Shadwell het ook opgelet dat kopiiste van die Griekse Nuwe Testament blykbaar God se naam met woorde soos Kyʹri·os, wat “Here” beteken, vervang het wanneer manuskripte van die Nuwe Testament algemene uitdrukkings van die Ou Testament gebruik, soos “die engel van Jehovah”. – 2 Konings 1:3, 15; Handelinge 12:23.
Selfs voordat Shadwell en Parker hulle Engelse vertalings uitgegee het, het ander vertalers God se naam in hulle Engelse vertalings van die Nuwe Testament teruggesit, maar net op ’n paar plekke. b Voor 1863, toe Parker A Literal Translation of the New Testament uitgegee het, lyk dit nie asof enige Engelse vertaler God se naam op baie plekke teruggesit het in ’n gepubliseerde Nuwe Testament nie. Wie was Lancelot Shadwell en Frederick Parker?
Lancelot Shadwell
Lancelot Shadwell (1808-1861) was ’n advokaat en die seun van sir Lancelot Shadwell, die visekanselier van Engeland. Die seun het aan die Anglikaanse Kerk behoort. Hoewel hy in die Drie-eenheid geglo het, het hy respek gehad vir God se naam en dit beskryf as “die glorieryke naam van JEHOVAH”. In sy vertaling, The Gospels of Matthew, and of Mark, het hy “Jehovah” 28 keer in die hoofteks gebruik, en 465 keer in die bygaande notas.
Shadwell het dalk uitgevind wat God se naam is toe hy dit in die Ou Testament in die oorspronklike Hebreeus gesien het. Hy het gesê dat diegene wat God se naam met die woord Kyʹri·os in die Griekse vertaling van die Ou Testament vervang het, “nie eerlike vertalers was nie”.
In sy vertaling het Shadwell “Jehovah” die eerste keer in Matteus 1:20 gebruik. Sy nota vir hierdie vers sê: “Die woord [Kyʹri·os] hier en op baie ander plekke in [die] N.T. beteken JEHOVAH, die eienaam van God. En dit is baie belangrik dat hierdie woord in die Engelse vertaling teruggesit word.” Hy het ook gesê: “Ons moet dit doen om God te eer. Hy het homself bekendgemaak deur die naam JEHOVAH, en ons kan nie beter doen as om hierdie naam te gebruik wanneer ons oor hom praat nie.” Hy het toe gesê: “In ons E.V. [Established, Authorized of King James-vertaling] van die Bybel, kom die naam JEHOVAH selde voor . . . In plaas van die eienaam van God lees ons Die Here.” Shadwell het gesê dat Die Here nie ’n gepaste plaasvervanger vir God se naam is nie. Toe het hy bygevoeg dat mense hom selfs “Die Heer” noem by sy herehuis, of huis in die platteland.
“[God] het homself bekendgemaak deur die naam JEHOVAH, en ons kan nie beter doen as om hierdie naam te gebruik wanneer ons oor hom praat nie.” – Lancelot Shadwell
Shadwell het sy vertaling van Matteus in 1859 uitgegee en sy gekombineerde weergawe van Matteus en Markus in 1861 uitgegee. Maar toe het sy werk tot ’n einde gekom. Hy het op 11 Januarie 1861 gesterf op die ouderdom van 52. Tog was sy pogings nie tevergeefs nie.
Frederick Parker
’n Ryk sakeman van Londen met die naam Frederick Parker (1804-1888) het uitgevind oor Shadwell se vertaling van Matteus. Parker het begin om die Nuwe Testament te vertaal toe hy omtrent 20 jaar oud was. Anders as Shadwell het Parker nie in die leerstelling van die Drie-eenheid geglo nie. Hy het geskryf: “[Mag] die hele Kerk van [God se] geliefde Seun . . . die waarheid aanvaar . . . en die enigste Almagtige Jehovah aanbid.” Parker het ook gevoel dat manuskripte van die Nuwe Testament wat Kyʹri·os gebruik het vir die Here God en die Here Jesus, dit moeilik gemaak het om die verskil tussen die twee te sien. So dit het hom nuuskierig gemaak toe hy sien dat Shadwell op sekere plekke Kyʹri·os as “Jehovah” vertaal het.
Hoe was dit vir Parker moontlik om dit te verstaan? Hy het Grieks gestudeer en ’n paar boeke en pamflette oor Griekse grammatika geskryf. Hy het ook ’n lid van die Anglo-Bybelse Instituut geword, wat navorsing van Bybelmanuskripte aangemoedig het om beter Engelse Bybelvertalings moontlik te maak. In 1842 het Parker sy eerste vertaling van die Nuwe Testament in verskillende dele en uitgawes uitgegee. c
Parker se pogings om God se naam terug te sit
Parker het ’n paar jaar lank oor vrae soos die volgende geskryf: “Wanneer verwys Kyʹri·os na die Here Jesus, en wanneer verwys dit na die Here God?” “Hoekom word Kyʹri·os dikwels grammatikaal as ’n naam en nie as ’n titel gebruik nie?”
Toe Parker Shadwell se vertaling van Matteus van 1859 met sy notas oor Kyʹri·os gesien het, was hy oortuig dat Kyʹri·os op sekere plekke “as Jehovah vertaal moet word”. So hy het sy hele vertaling van die Nuwe Testament hersien om “Jehovah” in te sit waar hy geglo het dit moet wees. Dit was gebaseer op die konteks of grammatika van die Griekse teks. Daarom het Parker in 1863 ’n uitgawe van A Literal Translation of the New Testament uitgegee wat uit een bundel bestaan het. Dit het God se naam 187 keer in die hoofteks bevat. Dit lyk asof dit die eerste gepubliseerde Engelse weergawe is wat God se naam regdeur die Christelike Griekse Geskrifte gebruik. d
In 1864 het Parker ook A Collation of an English Version of the New Testament . . . With the Authorized English Version vrygestel. Die rede hoekom hy die twee Nuwe Testamente in een bundel gekombineer het, was om te wys waar en hoe sy weergawe van die ander een verskil het. e
Om te wys wat die waarde daarvan is om God se naam terug te sit, het Parker na ’n paar verse in die Authorized Version verwys, insluitende Romeine 10:13, wat sê: “Want wie ook al die naam van die Here aanroep, sal gered word.” Parker het gevra: Het enige iemand ooit gedink dat “die Authorized English Version in hierdie Verse na Jehovah en nie na Die Seun Jesus Christus ons Here . . . verwys nie?”
Parker het duisende ponde spandeer – wat destyds ’n fortuin was – om sy pamflette, publikasies en ander geskrifte uit te gee en te adverteer. Om die waarheid te sê, in net een jaar het hy 800 pond spandeer, wat vandag gelyk is aan meer as R2,4 miljoen. Hy het ook gratis kopieë van baie van sy publikasies gestuur aan mense wat hy ken en aan prominente geestelikes sodat hulle daarna kon kyk.
Parker se publikasies en sy vertalings van die Nuwe Testament, waarvan nie baie gedruk is nie, is deur party geleerdes bespot. Maar deur dit te doen, het hulle die aandag afgetrek van die opregte werk wat hy, sowel as Shadwell en ander, gedoen het om God se persoonlike naam in die Engelse Nuwe Testament terug te sit.
Jy sal dalk ook daarvan hou om na die interessante video van tien minute te kyk: Museumtoere by Warwick: “Die Bybel en God se naam”.
a “Jah”, ’n verkorte vorm van “Jehovah”, word gevind in Openbaring 19:1, 3, 4, 6 in die uitdrukking “Halleluja”, wat “Loof Jah!” beteken.
b Shadwell het nie die volledige Nuwe Testament vertaal nie. Die ander vertalers sluit Philip Doddridge, Edward Harwood, William Newcome, Edgar Taylor en Gilbert Wakefield in.
c Om sy sakebelange apart te hou van sy Bybelnavorsing, het Parker die naam Herman Heinfetter in sy godsdienspublikasies en Bybelvertalings gebruik. Hierdie naam verskyn ’n hele paar keer in die aanhangsels van Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling.
d In 1864 het Parker An English Version of the New Testament vrygestel wat God se naam 186 keer bevat.
e Voor Parker se vertalings het baie Hebreeuse vertalings van die Nuwe Testament God se naam in verskeie verse ingesluit. In 1795 het Johann Jakob Stolz ook ’n Duitse vertaling uitgegee wat God se naam meer as 90 keer van Matteus tot Judas gebruik.