Moet godsdiens by die politiek betrokke raak?
Regoor die wêreld is baie mense wat sê dat hulle Jesus Christus volg, by die politiek betrokke. Party probeer om hulle godsdiensoortuigings en standaarde te bevorder deur spesifieke politieke partye of kandidate te ondersteun. Politikusse gebruik weer baie keer morele of maatskaplike sake om die ondersteuning van godsdienstige mense te kry. Dit is algemeen vir godsdiensleiers om aan verkiesings deel te neem om in ’n politieke posisie aangestel te word. En in party lande kan ’n “Christelike” godsdiens selfs spesiale status as ’n staatsgodsdiens geniet.
Wat dink jy? Moet volgelinge van Jesus Christus by die politiek betrokke raak? Jy kan die antwoord vind deur na Jesus se voorbeeld te kyk. Hy het gesê: “Ek het vir julle die voorbeeld gestel sodat julle ook moet doen wat ek vir julle gedoen het” (Johannes 13:15). Watter voorbeeld het Jesus gestel wanneer dit by die politiek kom?
Het Jesus by die politiek betrokke geraak?
Nee. Jesus het nie by die wêreld se politiek betrokke geraak nie.
Jesus wou nie politieke mag hê nie. Hy het geweier om die heerser van menseregerings te word toe Satan die Duiwel hom “al die koninkryke van die wêreld” aangebied het (Matteus 4:8-10). a By nog ’n geleentheid het mense probeer om Jesus te dwing om by die politiek betrokke te raak nadat hulle gesien het dat hy leierseienskappe het. Die Bybel sê: “Omdat Jesus geweet het dat hulle op die punt staan om hom te kom gryp en hom koning te maak, het hy weer weggegaan na die berg toe, heeltemal alleen” (Johannes 6:15). Jesus het nie gedoen wat die mense wou hê hy moes doen nie. Hy het eerder geweier om by die politiek betrokke te raak.
Jesus het nie kant gekies in politieke sake nie. Byvoorbeeld, in Jesus se dag was die Jode kwaad omdat hulle belasting aan die Romeinse regering moes betaal, en hulle het gevoel dat dit onregverdig was. Hulle het Jesus probeer kry om kant te kies in hierdie saak. Maar hy het nie betrokke geraak by ’n argument oor of sulke belasting regverdig was nie. Hy het vir hulle gesê: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Markus 12:13-17). Hy het neutraal gebly in hierdie politieke saak. Maar hy het gewys dat die belasting wat vereis is deur die Romeinse regering, wat die keiser verteenwoordig het, betaal moes word. Terselfdertyd het hy gewys dat ’n persoon nie in alles aan die regering gehoorsaam kan wees nie. ’n Persoon moes nie aan die staat gee wat God toekom nie, insluitende aanbidding. – Matteus 4:10; 22:37, 38.
Jesus het ’n hemelse regering, God se Koninkryk, bevorder (Lukas 4:43). Hy het nie by die politiek betrokke geraak nie, want hy het geweet dat God se Koninkryk, nie menseregerings nie, die aarde sou maak soos wat God dit wou hê (Matteus 6:10). Hy het verstaan dat God se Koninkryk nie menseregerings sou gebruik nie, maar dit eerder sou vervang. – Daniël 2:44.
Het die eerste-eeuse Christene by die politiek betrokke geraak?
Nee. Jesus se volgelinge was gehoorsaam aan sy gebod om “geen deel van die wêreld [te wees] nie” (Johannes 15:19). Hulle het sy voorbeeld gevolg en aangehou om geen deel van die wêreld se politiek te wees nie (Johannes 17:16; 18:36). Hulle het nie by politieke sake betrokke geraak nie. Hulle het eerder die werk gedoen wat Jesus hulle beveel het om te doen – om oor God se Koninkryk te getuig. – Matteus 28:18-20; Handelinge 10:42.
Die belangrikste ding vir die eerste-eeuse Christene was om gehoorsaam aan God te wees, maar hulle het ook geweet dat hulle sekulêre owerhede moes respekteer (Handelinge 5:29; 1 Petrus 2:13, 17). Hulle was gehoorsaam aan die wette en het belasting betaal (Romeine 13:1, 7). Al het hulle nie betrokke geraak by die politiek nie, het hulle gebruik gemaak van die wetlike beskerming en dienste wat die regering voorsien het. – Handelinge 25:10, 11; Filippense 1:7.
Christelike neutraliteit in ons tyd
Die Bybel wys duidelik dat Jesus en sy vroeë volgelinge nie betrokke geraak het by die politiek nie. Daarom bly Jehovah se Getuies, as Christene, regoor die wêreld heeltemal neutraal. Soos die eerste-eeuse Christene, doen hulle die werk wat Jesus hulle beveel het – hulle verkondig “hierdie goeie nuus van die Koninkryk”. – Matteus 24:14.
a Toe Jesus geweier het, het hy nie gesê dat Satan nie die reg gehad het om hom so iets aan te bied nie. Later het hy Satan “die heerser van die wêreld” genoem. – Johannes 14:30.