Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

JAY CAMPBELL | LEWENSVERHAAL

Van die laagste vlak tot groot hoogtes

Van die laagste vlak tot groot hoogtes

 Terwyl ek grootgeword het, was ek ’n baie skaam meisie. Ek het verkies om in die huis te bly en vir mense weg te kruip, en ek het dikwels waardeloos gevoel. Ek het baie min met mense in die openbaar gepraat, en ek was bang dat mense my nie met waardigheid en respek sou behandel nie. Kom ek vertel julle my verhaal.

 In Augustus 1967, ná ’n normale dag as ’n gesonde 18 maande oue baba, het ek ’n hoë koors gekry. Ek het die volgende oggend wakker geword met my bene wat swak is. Hospitaaltoetse in Freetown, Sierra Leone, waar ek gebly het, het gewys dat ek polio het. Dit is ’n aansteeklike virussiekte wat verlamming veroorsaak, veral in kinders wat jonger as vyf jaar oud is. Fisioterapie het nie gehelp om my bene te versterk nie. My bene het geleidelik so swak geword dat ek nie meer kon loop of staan nie. My pa het gereeld gesê dat ek net “’n halwe kind” was as gevolg van my gebrek. Omdat ek net kon kruip en waardeloos gevoel het, het ek gevoel dat ek tot die laagste vlak beperk is.

Terwyl ek grootword, kruip ek op die grond

 Ek het in ’n woonstelblok grootgeword saam met my ma en ander families wat baie arm was. Alhoewel mense van my gehou het, wou ek hê dat my pa vir my lief moes wees, maar hy was nie. Party mense het geglo dat my toestand nie ’n normale siekte was nie, maar eerder die gevolg van towery. Ander het voorgestel dat my ma my by die deur van ’n plek los wat na gestremde kinders omsien. Hulle het gesê dat dit haar sou bevry van die las om na my te kyk. My ma het die voorstel verwerp en hard gewerk om vir my te sorg.

 Omdat ek nie kon loop of staan nie, moes ek kruip. Maar om myself oor die grond en ander oppervlaktes te trek, het beserings veroorsaak. Om my liggaam te beskerm, het ek dik klere gedra. Ek het pantoffels gedra om my hande te beskerm. Later het ek houtblokke gekry wat in die vorm van ’n U was, wat my hande meer beskerm het. Om rond te beweeg het ek uitgestrek, die blokke op die grond gesit, en dan my gewig vorentoe beweeg. Dan het ek my bene in dieselfde rigting geswaai deur my rug te gebruik. Wanneer ek een “stap” geneem het, het ek weer uitgestrek om die volgende moeilike stap te neem. Dit het baie druk op my arms en skouers geplaas. Omdat dit soveel inspanning gevat het om so rond te beweeg, het ek selde uit die woonstelblok gegaan. Ek kon nie skool toe gaan en ook nie met ander kinders speel nie. Ek was bekommerd oor hoe ek sou oorleef as my ma moes doodgaan.

 Ek het tot God gebid en hom gevra om my te help – om my nie ’n bedelaar te laat word nie. Ek het gevoel dat as ek nader aan hom kom en hom op die regte manier dien, hy vir my sal sorg. Daarom het ek eendag in 1981, al was dit baie pynlik, ons woonstelblok verlaat om na ’n kerk te gaan wat in dieselfde straat was waar ons gebly het. Ek het ongemaklik gevoel oor die manier waarop mense na my gekyk het. Die pastoor het my nie verwelkom nie, en hy het my ma uitgeskel omdat ek op ’n plek gesit het waarvoor iemand anders betaal het. Ek het besluit om nie weer terug te gaan nie.

Hoe ek my hemelse Vader ontmoet het

 Een oggend in 1984, toe ek 18 jaar oud was, het ek boontoe gegaan en soos gewoonlik heeldag by ’n venster gaan sit. Dit is waar ek gekyk het wat in die buitewêreld gebeur. Maar ek het toe besluit om na die buitekant van die woonstelblok te gaan, waar daar gewoonlik niemand was nie. Toe ek daar kom, het ek twee mans ontmoet wat van deur tot deur gepreek het. Hulle het my vertel van ’n pragtige toekoms waar my toestand sou verander. Hulle het Jesaja 33:24 en Openbaring 21:3, 4 gelees. Toe het hulle vir my die kleurvolle brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! gegee en belowe om terug te kom om my meer te leer.

 Met hulle tweede besoek het hulle vir my gesê dat hulle ’n nuwe sendeling, Pauline, sou bring om met ons gesprek voort te gaan. Hulle het dit gedoen, en die verhouding tussen my en Pauline was soos ’n ma en haar dogter. My eie ma het my aangemoedig om aan te hou met my Bybelstudie met my “nuwe ma”. Sy het selfopofferende liefde en belangstelling getoon en was geduldig en goedhartig. Sy het ook altyd seker gemaak hoe dit met my gaan. Sy het my leer lees. Sy het die publikasie My boek met Bybelverhale gebruik om my geleidelik voor te stel aan die liefdevolle Vader wat ek so graag wou hê.

Pauline, ’n sendeling, wat die Bybel met my studeer het

 Wat ek uit die Bybel geleer het, het my met vreugde gevul. Eendag het ek Pauline gevra of ek ’n vergadering van Jehovah se Getuies kon bywoon. Hierdie vergadering was toe die Gemeentelike Boekstudie a genoem. Dit was gehou in die huis van een van Jehovah se Getuies wat omtrent ’n blok van my af gebly het. Pauline het ja gesê. Die volgende Dinsdag het sy gekom en vir my gewag terwyl ek gebad en aangetrek het sodat ons die vergadering saam kon bywoon. Iemand het gesê dat ek vir Pauline moes sê om ’n taxi vir my te betaal, maar ek het gesê: “Ek sal met my houtloopblokke soontoe loop.”

 Toe dit tyd was om te gaan, het my ma en ons bure my bekommerd dopgehou. Terwyl ek deur die binnehof beweeg het, het van die bure vir Pauline geskree: “Jy dwing haar!”

 Pauline het my saggies gevra: “Jay, wil jy gaan?” Dit was die tyd om te wys dat ek op Jehovah vertrou (Spreuke 3:5, 6). Ek het gesê: “Ja! Dit is my besluit.” Die bure het my in stilte dopgehou, en hulle houding het verander toe ek naby die hek kom. Toe ek by die woonstelblok uitgaan, het hulle almal uitgeroep van vreugde.

 Ek het daardie vergadering so geniet! Dit was so verfrissend! Almal het my verwelkom. Niemand het op my neergesien nie. Ek het baie gemaklik gevoel. So ek het dit gereeld bygewoon. Kort daarna het ek gevra of ek ook die groter vergaderinge wat by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gehou was, kon bywoon. Ek was arm en het net twee rokke gehad om van te kies en een paar pantoffels. Tog was ek oortuig dat Jehovah se volk my nie sou verwerp nie. En natuurlik het hulle nie.

 Om by die Koninkryksaal uit te kom, het beteken dat ek tot die einde van die straat moes “loop” en dan met ’n taxi moes ry tot onderaan die heuwel waar die Koninkryksaal was. Die broers het my dan tot by die saal in hulle arms gedra.

 Omdat ek gevoel het dat ek Jehovah se goedheid ondervind het, wou ek beskerming by hom soek. Daarom het ek besluit om gereeld die vergaderinge by te woon (Psalm 34:8). Gedurende die reënseisoen het ek dikwels nat en vol modder by die saal aangekom en moes ek droë klere daar aantrek, maar dit was die moeite werd!

 Die 1985 Yearbook of Jehovah’s Witnesses het my verhaal vertel. Nadat Josette, ’n Getuie in Switserland, my verhaal in die jaarboek gelees het, het sy besluit om vir my ’n driewiel-rolstoel met handpedale, modderskerms en kleurvolle weerkaatsers agterop te stuur. Daarna kon ek met meer waardigheid rondbeweeg. Jong kinders het my bewonder en het gesê hoeveel hulle daarvan hou om my te sien in my spoggerige stoel. Ek was van die laagste vlak opgelig en het nou soos ’n koningin gevoel. Mense het respek vir my gehad en het nie meer op my neergesien nie.

Ek word tot groot hoogtes geneem

 Dit was vir my maklik om geestelik vordering te maak omdat ek alreeds ’n eenvoudige en sedelike rein lewe gelei het. My stoel het my in staat gestel om aan die bediening deel te neem, en op 9 Augustus 1986 is ek gedoop. Doop het my lewe verbeter en my tot hoogtes geneem wat ek my nie kon indink nie. Ek het innerlike vreugde en tevredenheid gehad, ’n gevoel van eie waarde en vertroue in myself omdat ek nou ’n Vader gehad het wat vir my lief was. Ek was ook omring deur mense wat regtig vir my omgegee het.

 Ek wou Jehovah terugbetaal, en daarom het ek gedink aan gewone pionierdiens, maar ek was nie seker of ek dit sou kon doen nie (Psalm 116:12). Ek het daaroor gebid en besluit om dit te probeer. Op 1 Januarie 1988 het ek begin pionier, en ek pionier nog steeds. Wat ’n seën was dit tog vir my! Ek het liefdevolle broers en susters wat my help om my maandelikse doelwit te bereik. En ek het gesien hoe Jehovah my ondersteun met sy heilige gees. – Psalm 89:21.

 As ’n pionier het ek nou meer rondbeweeg, en dit het my bene gehelp al is hulle nog swak. Ná ’n ruk het ek na ’n nuwe kliniek wat oopgemaak het, gegaan. Ek het gehoop om fisioterapie en ’n oefenprogram daar te kry. Maar ’n verpleegster daar het gesê dat ek nie weer moet kom nie omdat ek binnekort sou doodgaan. Toe haar kollega dieselfde sê, het ek baie ontmoedig gevoel. Toe ek by die huis kom, het ek tot Jehovah gebid om my te help met my gevoelens van ontmoediging en om die een of ander vorm van terapie te voorsien.

 Die bediening was een van die beste vorme van terapie vir my. Ek het baie oefening gekry. ’n Paar jaar later het een van die verpleegsters wat vir my gesê het dat ek binnekort sou doodgaan, verby die Koninkryksaal gegaan en my daar gesien. Sy was verbaas om te sien dat ek nog lewe!

 Ten spyte van my toestand het ek probeer om besig te bly in Jehovah se diens. Die broers prys my vir my ywer en omdat ek altyd vroeg by die vergaderinge is. Ek doen dit altyd omdat dit my tyd gee om my broers en susters te groet en belangstelling in hulle te toon.

 Ek het Jehovah se goedheid ondervind en baie seëninge in my lewe geniet. Ek het die vreugde gehad om drie mense te help om tot doop te vorder. Een van hulle, Amelia, het die 137ste klas van Gilead bygewoon. Ek het die Pionierdiensskool, wat ’n wonderlike voorsiening van Jehovah is, meer as een keer bygewoon! Jehovah het my ’n gelukkiger persoon gemaak met ’n gevoel van eiewaarde en selfvertroue. Mense respekteer my nou. Ek is nie meer skaam oor myself nie. Ek het goeie vriende in die waarheid, nie net in Freetown waar ek bly nie, maar ook oor die hele land en regoor die wêreld.

 Dit is amper 40 jaar vandat ek van Jehovah se wonderlike belofte oor ’n nuwe wêreld geleer het waar fisiese gestremdhede nie meer sal bestaan nie. Daardie belofte moedig my baie aan, en ek wag gretig vir dit om waar te word. Ek wag geduldig op my God, Jehovah, wat nie sal uitstel nie (Miga 7:7). Omdat ek ten spyte van my uitdagings nie opgegee het nie, het ek baie seëninge ontvang. Jehovah het my gehelp om baie van my probleme en uitdagings te hanteer. Hy het altyd hulp op die regte tyd voorsien. Ek is regtig gelukkig en glimlag van vreugde omdat ek van die grond, waar ek voorheen rondgekruip het, geneem is tot groot hoogtes, iets wat ek nooit gedink het moontlik is nie.

a Dit word nou die Gemeentelike Bybelstudie genoem.