Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Koninkryksale word veilig gemaak gedurende COVID-19

Koninkryksale word veilig gemaak gedurende COVID-19

1 OKTOBER 2022

 “Die Bestuursliggaam [het] besluit . . . dat hulle alle gemeentes gaan aanmoedig om vanaf 1 April weer vergaderinge by Koninkryksale te hou. Maar die beperkings van plaaslike regerings moet gevolg word.” Daardie aankondiging, wat vroeg in Maart 2022 op jw.org verskyn het, het Jehovah se Getuies regoor die wêreld baie opgewonde gemaak. Maar die COVID-19-pandemie was nog nie verby nie. a Watter veranderinge, voorraad en toerusting was nodig om die mense wat die vergaderinge bywoon, teen die virus te beskerm? Sou ons Koninkryksale gereed wees nadat ons amper twee jaar lank nie vergaderinge in persoon gehou het nie?

 Om die waarheid te sê, ons broers was alreeds maande lank besig om voor te berei om weer vergaderinge by Koninkryksale te hou.

Verskillende behoeftes, verskillende oplossings

 Net een maand nadat ons in 2020 opgehou het om vergaderinge in persoon te hou, het die Wêreldkantoor vir Ontwerp en Konstruksie (WDC) in Warwick, New York, begin kyk watter uitwerking COVID-19 sou hê op die manier hoe ons ons Koninkryksale gebruik. Hulle het ook gekyk na watter stappe nodig was om ons vergaderingplekke veilig te maak.

 Dit wat nodig was in een deel van die wêreld, was nie noodwendig nodig op ’n ander plek nie. Matthew De Sanctis, wat met WDC werk, verduidelik: “In party lande is een probleem dat dit moeilik is om ’n plek te hê om jou hande te was. Wanneer Koninkryksale nie lopende water het nie, moet water gekoop word of gedra word van ’n plaaslike rivier of put. In ander lande het party regerings hulle vereistes verander oor lugversorging, ventilasie en tekens oor gesondheid en higiëne wat opgesit moet word.”

 Wat het ons broers gedoen om daardie uitdagings te hanteer? Matthew sê dat hulle gevind het dat in baie Koninkryksale werk oplossings wat eenvoudig en goedkoop is, die beste. Byvoorbeeld, in Papoea-Nieu-Guinee is eenvoudige plekke om jou hande te was, opgestel deur 20 liter-plastiekemmers met krane te gebruik. Op hierdie manier kon ons broers ’n tipiese Koninkryksaal in die platteland vir net R680 toerus met plekke om jou hande te was. Meer as 6 000 handwasbakke van hoëgehalte was vir Koninkryksale in Afrika gekoop by ’n verskaffer in Asië.

Ouers stel vir hulle kinders ’n goeie voorbeeld wanneer dit by higiëne kom

 Ander veranderinge sluit in dat waaiers en ventilasiestelsels geïnstalleer of aangepas word sodat die Koninkryksale vars lug kan hê. Baie gemeentes het lang mikrofoonpale gekoop sodat die gehoor nie aan die mikrofone hoef te vat nie. Dinge waaraan daar baie gevat word, soos handvatsels van deure en krane wat maklik die virus kan versprei, is tot ’n minimum beperk en is gereeld ontsmet. Party gemeentes het in hulle badkamers krane geïnstalleer wat met sensors werk en wat outomaties aangaan. In Chili het dit gemiddeld R23 875 gekos om die nodige veranderinge aan elke Koninkryksaal te maak.

Mikrofoonpale is gebruik

 Al was dit ’n prioriteit om Koninkryksale veilig te maak, het ons broers ook probeer om spaarsamig met donasies te werk. Byvoorbeeld, in party lande het hulle gebruik gemaak van belastingvrystellings om handwasbakke en mikrofoonpale te koop. Takkantore het saamgewerk om geld te spaar deur voorrade in groter hoeveelhede as gewoonlik te koop. Takkantore en die Wêreldwye Aankope-afdeling het dikwels gereël dat items direk by verskaffers gekoop word wat gemaak het dat die pryse goedkoper is en dat dit vinniger afgelewer word.

’n Plek om jou hande te ontsmet

‘’n Gevoel van veiligheid wat ek nodig gehad het’

 Die reëlings om die Koninkryksale veiliger te maak, het dié wat die vergaderinge in persoon begin bywoon het, beskerm en gerusgestel. Dulcine, ’n suster in Peru, erken dat sy “’n bietjie bang” was toe sy uitvind dat ons na die Koninkryksale sou terugkeer. Sy sê: “Ek het COVID-19 gekry net nadat die pandemie begin het. Daarom het ek angstig gevoel om na die Koninkryksaal terug te gaan omdat ek geweet het dat ek weer aan die virus blootgestel kan word. Maar toe ek by die Koninkryksaal aangekom het, het ek opgelet dat die ouermanne baie dinge gedoen het om ons veilig te maak. Daar was plekke om ons hande te ontsmet en mikrofoonpale, sowel as ’n program om die saal voor en ná elke vergadering te ontsmet. Al hierdie dinge het my ’n gevoel van veiligheid gegee wat ek nodig gehad het.” b

’n Koninkryksaal word ontsmet

 Sara, ’n suster in Zambië, het ’n ander uitdaging gehad. Sy verduidelik: “’n Paar maande terug het my man van COVID-19 gesterf. Ek was bekommerd oor hoe ek sou voel wanneer ek vir die eerste keer ’n vergadering sonder hom sou bywoon.” Hoe het dinge vir haar uitgedraai? Sy sê: “Om vergaderinge in persoon by te woon, het my gewys dat Jehovah met ons is gedurende hierdie laaste dae. Nou voel ek meer as ooit tevore dat ek die aanmoediging, liefde en ondersteuning kry wat ek nodig het van die ouermanne en die res van my broers en susters.”

Bly om weer in persoon vergaderinge by te woon

 Ons dierbare mede-aanbidders regoor die wêreld is dankbaar om die geleentheid te hê om weer na hulle Koninkryksale te gaan. Dankie vir julle donasies, waarvan baie deur middel van donate.jw.org gemaak word. Hierdie donasies het ons gehelp om seker te maak dat plekke van ware aanbidding gemaklik sowel as veilig is om bymekaar te kom.

a Waar dit moontlik is, kan mense nog steeds vergaderinge deur middel van videoverbinding of telefoon bywoon as dit nodig is.

b Almal was ook sterk aangemoedig om ’n masker te dra wanneer hulle vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon.