Volgens Markus 13:1-37
13 Terwyl hy uit die tempel uitgegaan het, het een van sy dissipels vir hom gesê: “Leermeester, kyk na hierdie pragtige klippe en geboue!”+
2 Maar Jesus het vir hom gesê: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal beslis nie ’n klip op ’n klip gelos word wat nie afgebreek sal word nie.”+
3 Terwyl hy op die Olyfberg gesit het waar hulle die tempel kon sien, het Petrus, Jakobus, Johannes en Andreʹas hom die volgende vraag gevra toe hulle alleen was:
4 “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge gebeur, en wat sal die teken wees dat al hierdie dinge tot ’n einde gaan kom?”+
5 Toe het Jesus vir hulle gesê: “Pasop dat niemand julle mislei nie.+
6 Baie sal kom en my naam gebruik en sê: ‘Dit is ek,’ en hulle sal baie mense mislei.
7 En wanneer julle van oorloë en berigte van oorloë hoor, moet julle nie bang wees nie. Hierdie dinge moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie.+
8 “Want nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk.+ Daar sal aardbewings op die een plek ná die ander wees, en daar sal ook voedseltekorte wees.+ Hierdie dinge is die begin van ’n baie moeilike tyd.*+
9 “Julle moet wakker en versigtig wees. Mense sal julle aan plaaslike howe oorlewer,+ en julle sal in sinagoges geslaan word+ en voor goewerneurs en konings gebring word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle.+
10 Die goeie nuus moet ook eers aan mense van al die nasies verkondig word.+
11 En wanneer hulle julle vat om julle oor te lewer, moet julle nie vooraf bekommerd wees oor wat julle sal sê nie, maar julle moet sê wat ook al in daardie uur aan julle gegee word, want dit is nie julle wat praat nie, dit is die heilige gees.+
12 Wat meer is, broer sal broer aan die dood oorlewer, en ’n pa ’n kind, en kinders sal teen ouers opstaan en hulle laat doodmaak.+
13 En julle sal deur alle mense gehaat word as gevolg van my naam.+ Maar die een wat tot die einde toe volhard,+ sal gered word.+
14 “Maar wanneer julle die walglike ding wat verwoesting veroorsaak,+ sien staan waar dit nie behoort te staan nie (hier het die leser insig nodig), moet die mense wat in Judeʹa is, na die berge begin vlug.+
15 Laat die man wat op die dak is, nie afkom of ingaan om enigiets uit sy huis te gaan haal nie,
16 en laat die man wat op die landery is, nie teruggaan na die dinge wat hy agtergelaat het om sy bo-kleed te gaan haal nie.
17 Dit sal ’n verskriklike tyd wees vir die swanger vrouens en vir dié wat in daardie dae ’n baba borsvoed!+
18 Hou aan bid dat dit nie in die winter sal gebeur nie,
19 want daardie dae sal dae van ’n verdrukking wees+ soos daar van die begin van God se skepping af tot op daardie tyd nog nie plaasgevind het nie en nie weer sal plaasvind nie.+
20 Om die waarheid te sê, as Jehovah* nie die dae verkort nie, sal niemand* gered word nie, maar weens dié wat hy uitgekies het, sal hy die dae verkort.+
21 “En as iemand dan vir julle sê: ‘Kyk! Hier is die Christus,’ of: ‘Kyk! Daar is hy,’ moet julle dit nie glo nie.+
22 Want valse christusse en valse profete sal verskyn+ en sal tekens en wonderwerke doen om dié wat uitgekies is, te probeer mislei.
23 Julle moet dus oppas.+ Ek het alles vooraf vir julle gesê.
24 “Maar in daardie dae, ná daardie verdrukking, sal die son donker word, en die maan sal nie sy lig gee nie,+
25 en die sterre sal uit die hemel val, en die kragte wat in die hemel is, sal geskud word.
26 En dan sal hulle die Seun van die mens+ met groot krag en heerlikheid in die wolke sien kom.+
27 Hy sal dan die engele uitstuur en dié wat vir hom uitgekies is, bymekaarmaak uit die vier windrigtings, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.+
28 “Leer nou uit die volgende illustrasie van die vyeboom: Sodra sy jong takkies uitloop en die boom blare kry, weet julle dat die somer naby is.+
29 Net so moet julle, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, ook weet dat hy naby is, voor die deur.+
30 Ek verseker julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot ’n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur nie.+
31 Hemel en aarde sal verdwyn,+ maar my woorde sal nooit verdwyn nie.+
32 “Niemand weet wanneer daardie dag of uur sal kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader.+
33 Bly op die uitkyk, bly wakker,+ want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie.+
34 Dit is soos ’n man wat na die buiteland gereis het en sy huis verlaat het. Hy het gesag aan sy slawe gegee+ en aan elkeen sy eie taak gegee. Hy het ook die deurwagter beveel om aan te hou waak.+
35 Hou dus aan waak, want julle weet nie wanneer die meester van die huis kom nie.+ Dalk is dit laat in die dag of middernag of voor dagbreek* of vroeg in die oggend.+
36 Sorg dat hy julle nie aan die slaap vind+ wanneer hy skielik kom nie.
37 Maar wat ek vir julle sê, sê ek vir almal: Hou aan waak.”+