Die eerste boek van Samuel 24:1-22

  • Dawid spaar Saul se lewe (1-22)

    • Dawid respekteer Jehovah se gesalfde (6)

24  Toe Saul terugkeer nadat hy die Filistyne agternagesit het, het hy gehoor dat Dawid in die wildernis van En-Gedi+ is.  Toe het Saul 3 000 van die beste vegters uit die hele Israel saamgeneem om na Dawid en sy manne te gaan soek op die rotsagtige kranse van die bergbokke.  Saul het by die skaapkrale* langs die pad gekom, waar daar ’n grot was, en hy het ingegaan om sy behoefte te doen,* terwyl Dawid en sy manne heel agter in die grot+ gesit het.  Dawid se manne het vir hom gesê: “Vandag is die dag waarop Jehovah vir u sê: ‘Ek lewer jou vyand aan jou oor,+ en jy kan met hom doen wat jy ook al wil.’” Toe het Dawid opgestaan en stilletjies ’n stuk van Saul se moulose oorkleed afgesny.  Maar agterna het Dawid se hart* hom veroordeel+ omdat hy ’n stuk van Saul se moulose oorkleed afgesny het.  Hy het vir sy manne gesê: “Omdat ek weet hoe Jehovah daaroor voel, sal ek nie eers daaraan dink om my hand te lig vir my heer, die gesalfde van Jehovah nie, want hy is die gesalfde van Jehovah.”+  Met hierdie woorde het Dawid sy manne gekeer,* en hy het hulle nie toegelaat om Saul aan te val nie. Intussen het Saul die grot verlaat en verder gegaan.  Toe het Dawid opgestaan en die grot verlaat en agter Saul aan uitgeroep: “My heer die koning!”+ Toe Saul omkyk, het Dawid gekniel en met sy gesig na die grond toe neergebuig.  Dawid het vir Saul gesê: “Hoekom luister u na mense wat sê: ‘Dawid wil iets slegs aan u doen’?+ 10  Vandag het u self gesien hoe Jehovah u in die grot in my hand gegee het. Maar toe iemand sê dat ek u moet doodmaak,+ het ek vir u jammer gevoel en gesê: ‘Ek sal nie my hand vir my heer lig nie, want hy is die gesalfde van Jehovah.’+ 11  Kyk, my vader, ek het ’n stuk van u moulose oorkleed in my hand. Toe ek dit afgesny het, het ek u nie doodgemaak nie. U kan dus duidelik sien en besef dat ek niks slegs aan u wil doen of teen u in opstand wil kom nie. En ek het nie teen u gesondig nie,+ maar u jaag my en wil my lewe neem.+ 12  Mag Jehovah tussen my en u oordeel,+ en mag Jehovah vir my wraak neem op u,+ maar ek sal nie my hand vir u lig nie.+ 13  Net soos die ou spreekwoord sê: ‘Van goddelose mense kom goddelose dade.’ Maar ek sal niks slegs aan u doen nie. 14  Vir wie wil die koning van Israel nou eintlik vang? Wie sit u agterna? ’n Dooie hond? ’n Enkele vlooi?+ 15  Mag Jehovah as regter tussen my en u oordeel. Hy sal my saak ondersoek en verdedig.+ Hy sal my oordeel en my uit u hand red.” 16  Nadat Dawid hierdie dinge gesê het, het Saul gesê: “Is dit jou stem, my seun Dawid?”+ En Saul het in trane uitgebars. 17  Hy het vir Dawid gesê: “Jy is regverdiger as ek, want jy het my goed behandel, maar ek het jou terugbetaal met wat sleg is.+ 18  Ja, vandag het jy my vertel van die goedheid wat jy aan my betoon het deur my nie dood te maak toe Jehovah my in jou hand gegee het nie.+ 19  Want watter man laat sy vyand gaan as hy hom in die hande kry? Jehovah sal jou beloon+ vir wat jy vandag vir my gedoen het. 20  Ek weet dat jy vir seker as koning sal regeer+ en dat die koninkryk van Israel in jou hande sal bly. 21  Sweer dan nou vir my by Jehovah+ dat jy nie my nakomelinge* sal doodmaak nie en dat jy nie my naam uit die huis van my vader sal uitwis nie.”+ 22  Toe het Dawid vir Saul gesweer, en daarna het Saul huis toe gegaan.+ Maar Dawid en sy manne het na hulle skuilplek toe gegaan.+

Voetnote

Of “klipskaapkrale”.
Lett. “om sy voete te bedek”.
Of “gewete”.
Of moontlik “verstrooi”.
Lett. “saad”.