VRAAG 7
Wat kan ek doen as druk op my geplaas word om seks te hê?
WAT SAL JY DOEN?
Stel jou hierdie toneel voor: Heather gaan nog net twee maande met Mike uit, maar dit voel vir haar asof sy hom al haar hele lewe lank ken. Hulle stuur gedurig vir mekaar teksboodskappe, hulle gesels ure lank oor die telefoon en hulle kan selfs mekaar se sinne voltooi! Maar nou wil Mike meer doen as net gesels.
Gedurende die afgelope twee maande het Mike en Heather net hande vasgehou en mekaar vlugtig gesoen. Heather wil nie verder gaan nie. Maar sy wil Mike ook nie verloor nie. Niemand anders laat haar so mooi en so spesiaal voel nie. ‘Wat meer is’, sê sy vir haarself, ‘ek en Mike is mos verlief . . . ’
As jy oud genoeg is om met iemand uit te gaan en jy in Heather se situasie was, wat sou jy volgende gedoen het?
STOP EN DINK!
As jy ’n fisiese wet, soos die swaartekragwet, ignoreer, sal jy die gevolge dra. Dieselfde geld as jy ’n sedewet oortree, soos die een wat sê: “Onthou [jou] van hoerery.”—1 Tessalonisense 4:3.
Wat is die gevolge as ’n mens ongehoorsaam is aan hierdie gebod? Die Bybel sê: “Hy wat hoerery beoefen, sondig teen sy eie liggaam” (1 Korintiërs 6:18). Hoe so?
Navorsers het gevind dat baie van die jongmense wat voorhuwelikse seks gehad het, gewoonlik een of meer van die volgende gevolge ervaar.
-
ONTSTELTENIS. Die meeste jongmense wat voorhuwelikse seks gehad het, sê dat hulle agterna spyt was daaroor.
-
WANTROUE. Nadat ’n paartjie seks gehad het, begin albei wonder: ‘Met wie anders het hy/sy al seks gehad?’
-
TELEURSTELLING. Die meeste meisies verkies diep in hulle hart iemand wat hulle sal beskerm, nie gebruik nie. En baie seuns vind dat hulle minder aangetrokke voel tot ’n meisie wat ingegee het en met hulle seks gehad het.
-
Die slotsom: As jy voor die versoeking swig om voorhuwelikse seks te hê, verlaag jy jouself deur iets kosbaars weg te gee (Romeine 1:24). Jou liggaam is veels te kosbaar om weg te gee!
Wys dat jy beginselvas is deur jou te “onthou van hoerery” (1 Tessalonisense 4:3). As jy eendag wel trou, kan jy seks hê. En jy sal dit ten volle kan geniet, sonder die bekommernis, spyt en onsekerheid wat so dikwels deel is van die gevolge van voorhuwelikse seks.—Spreuke 7:22, 23; 1 Korintiërs 7:3.
WAT DINK JY?
-
Sal enigiemand wat werklik vir jou lief is, jou fisiese en emosionele welsyn in gevaar stel?
-
Sal enigiemand wat werklik vir jou omgee, jou in die versoeking bring om jou verhouding met God op die spel te plaas?—Hebreërs 13:4.