Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 34

Wat sal gebeur as ons doodgaan?

Wat sal gebeur as ons doodgaan?

SOOS jy dalk weet, word mense vandag oud, siek en gaan hulle dood. Selfs party kinders gaan dood. Moet jy bang wees vir die dood of vir enigiemand wat doodgegaan het?— Weet jy wat gebeur as ons doodgaan?—

Wel, niemand wat vandag lewe, was al dood en het weer lewendig geword om vir ons daarvan te vertel nie. Maar toe Jesus, die Groot Onderwyser, op die aarde was, was daar so ’n man. As ons van hom lees, kan ons uitvind wat gebeur met mense wat doodgaan. Die man was ’n vriend van Jesus en het in Betanië, ’n klein dorpie naby Jerusalem, gewoon. Sy naam was Lasarus, en hy het twee susters gehad wat Marta en Maria genoem is. Kom ons kyk wat sê die Bybel het gebeur.

Eendag het Lasarus baie siek geword. Toe dit gebeur het, was Jesus ver daarvandaan. Marta en Maria het toe ’n boodskapper gestuur om vir Jesus te sê dat hulle broer, Lasarus, siek is. Hulle het dit gedoen, want hulle het geweet dat Jesus hulle broer kon kom gesond maak. Jesus was nie ’n dokter nie, maar hy het krag van God af gehad sodat hy alle soorte siektes kon gesond maak.—Matteus 15:30, 31.

Maar voordat Jesus na hom toe kon gaan, het Lasarus so siek geword dat hy doodgegaan het. Maar Jesus het vir sy dissipels gesê dat Lasarus slaap en dat Hy hom sal gaan wakker maak. Die dissipels het nie verstaan wat Jesus bedoel het nie. Daarom het Jesus reguit gesê: “Lasarus het gesterf.” Wat wys dit oor die dood?— Ja, dit is soos ’n diep slaap. Dit is ’n slaap wat so diep is dat die persoon nie eens droom nie.

Jesus het toe na Marta en Maria toe gegaan. Baie vriende van die gesin het reeds daar aangekom. Hulle het die susters kom troos omdat hulle broer dood is. Toe Marta hoor dat Jesus aankom, het sy hom gaan ontmoet. Kort daarna het Maria ook uitgegaan na Jesus toe. Sy was baie hartseer en het gehuil, en sy het by sy voete neergeval. Ander vriende wat agter Maria aan gekom het, het ook gehuil.

Die Groot Onderwyser het gevra waar hulle Lasarus neergelê het. Die mense het Jesus toe na die grot gelei waar Lasarus begrawe is. Toe Jesus al die mense sien huil, het hy ook begin huil. Hy het geweet hoe hartseer dit is wanneer iemand vir wie jy lief is, doodgaan.

Daar was ’n klip voor die grot en daarom het Jesus gesê: “Neem die klip weg.” Moes hulle dit doen?— Marta het nie gedink dat dit ’n goeie idee is nie. Sy het gesê: “Here, hy moet nou al ruik, want dit is vier dae.”

Maar Jesus het vir haar gesê: “Het ek nie vir jou gesê dat jy die heerlikheid van God sal sien as jy glo nie?” Jesus het bedoel dat Marta iets sou sien wat eer aan God sou bring. Wat sou Jesus doen? Toe die klip weggeneem is, het Jesus hardop tot Jehovah gebid. Toe het Jesus met ’n harde stem gesê: “Lasarus, kom uit!” Sou hy uitkom? Kon hy?—

Wel, kan jy iemand wakker maak wat slaap?— Ja, as jy hard roep, sal hy wakker word. Maar kan jy iemand wakker maak wat in die dood slaap?— Nee. Dit maak nie saak hoe hard jy roep nie, die een wat dood is, sal nie hoor nie. Daar is niks wat jy of ek of enigiemand anders wat vandag op die aarde lewe, kan doen om die dooies wakker te maak nie.

Wat het Jesus vir Lasarus gedoen?

Maar Jesus is anders. Hy het spesiale krag wat van God af kom. Daarom het iets verbasends gebeur toe Jesus vir Lasarus geroep het. Die man wat al vier dae lank dood was, het uit die grot uitgekom! Hy is weer lewendig gemaak! Hy kon weer asemhaal en loop en praat! Ja, Jesus het Lasarus uit die dode opgewek.—Johannes 11:1-44.

Dink nou hieraan: Wat het met Lasarus gebeur toe hy doodgegaan het? Het die een of ander deel van hom—’n siel of ’n gees—uit sy liggaam uitgegaan en êrens anders gaan lewe? Het Lasarus se siel hemel toe gegaan? Het hy vier dae lank daar bo by God en die heilige engele gelewe?—

Nee, hy het nie. Onthou, Jesus het gesê Lasarus slaap. Hoe is dit wanneer jy slaap? Wanneer jy baie diep slaap, weet jy nie wat om jou aangaan nie, nè?— En wanneer jy wakker word, weet jy nie hoe lank jy geslaap het totdat jy na ’n horlosie kyk nie. 

So is dit met dooie mense. Hulle weet niks. Hulle voel niks. En hulle kan niks doen nie. Dit is hoe dit met Lasarus was toe hy dood was. Die dood is soos ’n diep slaap waartydens ’n mens niks onthou nie. Die Bybel sê: “Wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks.”—Prediker 9:5, 10.

In watter toestand was Lasarus toe hy dood was?

Dink ook hieraan: As Lasarus daardie vier dae in die hemel was, sou hy dan nie iets daaroor gesê het nie?— En as hy in die hemel was, sou Jesus hom dan van daardie wonderlike plek af terug aarde toe laat kom het?— Natuurlik nie!

Maar baie mense sê dat ons ’n siel het, en hulle sê dat die siel aanhou lewe nadat die liggaam doodgegaan het. Hulle sê dat Lasarus se siel êrens gelewe het. Maar die Bybel sê nie so nie. Dit sê dat God die eerste mens Adam “’n lewende siel” gemaak het. Adam was ’n siel. Die Bybel sê ook dat Adam doodgegaan het toe hy gesondig het. Hy het ’n “dooie siel” geword, en hy het teruggekeer na die stof waaruit hy gemaak is. En die Bybel sê dat al Adam se nakomelinge ook sonde en die dood geërf het.—Genesis 2:7; 3:17-19; Numeri 6:6; Romeine 5:12.

Dit is dan duidelik dat ons nie ’n siel het wat ’n aparte deel van ons liggaam is nie. Elkeen van ons is ’n siel. En aangesien mense sonde van die eerste mens, Adam, geërf het, sê die Bybel: ‘Die siel wat sondig, sal sterf.’—Esegiël 18:4.

Hoekom is daar geen rede om vir die dooies bang te wees nie?

Party mense is bang vir die dooies. Hulle sal nie naby ’n begraafplaas gaan nie, want hulle dink die dooies het ’n siel wat apart van hulle liggaam is en wat die lewendes kwaad kan aandoen. Maar kan iemand wat dood is, iemand wat lewe, kwaad aandoen?— Nee, hy kan nie.

Party mense glo selfs dat die dooies as geeste kan terugkom om die lewendes te besoek. Daarom sit hulle kos vir die dooies neer. Maar mense wat dít doen, glo nie regtig wat God oor die dooies sê nie. As ons glo wat God sê, sal ons nie bang wees vir die dooies nie. En as ons regtig dankbaar is teenoor God vir die lewe, sal ons dit wys deur dinge te doen wat God bly maak.

Maar jy wonder dalk: ‘Sal God kinders wat doodgegaan het, opwek? Wil hy dit regtig doen?’ Kom ons praat volgende hieroor.

Kom ons lees verder in die Bybel oor die toestand van die dooies en oor die feit dat die mens ’n siel is, in Psalm 115:17; 146:3, 4 en Jeremia 2:34.