HOOFSTUK 88
’n Verandering vir die ryk man en vir Lasarus
-
ILLUSTRASIE VAN DIE RYK MAN EN LASARUS
Jesus het sy dissipels goeie raad gegee oor die gebruik van materiële rykdom. Maar sy dissipels was nie die enigstes wat geluister het nie. Fariseërs was ook daar, en hulle moet ook na Jesus se raad luister. Hoekom? Want hulle is ‘lief vir geld’. Wanneer hulle hoor wat Jesus sê, ‘begin hulle hom uitlag’. – Lukas 15:2; 16:13, 14.
Maar dit intimideer Jesus nie. Hy sê vir hulle: “Julle gee voor dat julle regverdig is, maar God ken julle harte. Want wat mense as belangrik beskou, is iets walgliks in God se oë.” – Lukas 16:15.
Die Fariseërs is lank deur “mense as belangrik beskou,” maar nou is dit tyd vir ’n verandering, tyd vir die rolle om omgedraai te word. Dié wat as belangrik beskou word, wat ryk is en politieke en godsdienstige mag het, sal hulle posisie verloor. Die gewone mense wat besef dat hulle God nodig het, sal verhoog word. Jesus maak dit duidelik dat ’n groot verandering plaasvind deur te sê:
“Die Wet en die woorde van die profete is bekend gemaak totdat Johannes op die toneel verskyn het. Van toe af word die Koninkryk van God as goeie nuus bekend gemaak, en alle soorte mense streef daarna om dit te bereik. Ja, dit is makliker vir hemel en aarde om te verdwyn as dat selfs een deeltjie van ’n letter van die Wet nie vervul sal word nie” (Lukas 3:18; 16:16, 17). Hoe wys Jesus se woorde dat ’n verandering plaasvind?
Die Joodse leiers beweer trots dat hulle gehoorsaam is aan die Wet van Moses. Toe Jesus ’n blinde man in Jerusalem genees het, het die Fariseërs trots gesê: “Ons is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gepraat het” (Johannes 9:13, 28, 29). Een doel van die Wet wat deur Moses gegee is, was om nederiges na die Messias te lei, dit wil sê na Jesus. Johannes die Doper het Jesus as die Lam van God geïdentifiseer (Johannes 1:29-34). Nederige Jode, veral onder die armes, het vanaf die begin van Johannes se bediening van “die Koninkryk van God” gehoor. Ja, daar is “goeie nuus” vir almal wat onderdane van God se Koninkryk wil wees en daarby wil baat vind.
Die Wet van Moses het nie onvervuld gebly nie; dit het eerder tot die Messias gelei. En binnekort sal mense nie meer verplig wees om dit te onderhou nie. Die Wet het mense byvoorbeeld toegelaat om te skei as gevolg van verskillende redes, maar Jesus verduidelik nou dat ‘enigiemand wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, egbreuk pleeg, en enigiemand wat met ’n vrou trou wat van haar man geskei is, egbreuk pleeg’ (Lukas 16:18). Wanneer die Fariseërs wat vir alles reëls maak, dit hoor, is hulle woedend!
Jesus vertel nou ’n illustrasie wat beklemtoon
hoe groot die verandering is wat plaasvind. Die verhaal gaan oor twee mans. Daar is ’n drastiese verandering in hulle omstandighede en posisie. Hou in gedagte dat Fariseërs, wat lief is vir geld en deur mense as belangrik beskou word, onder dié is wat na die illustrasie luister.“Daar was ’n ryk man,” sê Jesus, “wat altyd duur klere gedra het, en hy het van dag tot dag die lewe geniet en in weelde gelewe. Maar ’n bedelaar met die naam Lasarus, wat vol swere was, is altyd by sy poort neergesit en wou graag eet van die dinge wat van die ryk man se tafel afgeval het. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.” – Lukas 16:19-21.
Die Fariseërs is lief vir geld, en daarom is dit duidelik na wie hierdie “ryk man” verwys. Hierdie Joodse godsdiensleiers hou ook daarvan om duur, spoggerige klere aan te trek. En buiten die rykdom wat hulle besit, lyk dit asof hulle ryk is in die voorregte wat hulle geniet en die geleenthede wat hulle het. Ja, die man in duur klere beeld hulle bevoorregte posisie uit, en die wit linne wys dat hulle hulleself as regverdig beskou. – Daniël 5:7.
Wat dink hierdie ryk, trotse leiers van die armes, die gewone mense? Hulle sien neer op hulle en beskou hulle as ‛am ha·’aʹrets, of mense van die land (aarde), wat nie die Wet ken of verdien Johannes 7:49). Dit weerspieël die situasie van die “bedelaar met die naam Lasarus,” wat graag selfs die stukkies kos “wat van die ryk man se tafel afgeval het”, wou eet. Soos Lasarus, wat vol swere was, word daar neergesien op die gewone mense, asof hulle geestelik siek is.
dat dit aan hulle geleer word nie (Hierdie hartseer situasie bestaan al lank, maar Jesus weet dat die tyd gekom het vir ’n groot verandering in die toestand van dié wat soos die ryk man is sowel as dié wat soos Lasarus is.
DIE VERANDERING VIR DIE RYK MAN EN VIR LASARUS
Jesus beskryf die drastiese verandering in omstandighede. “Later,” sê hy, “het die bedelaar gesterf, en die engele het hom weggedra na ’n plek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. En in die Graf het hy opgekyk terwyl hy in pyn was, en hy het Abraham in die verte gesien en Lasarus, wat langs hom is.” – Lukas 16:22, 23.
Dié wat na Jesus luister, weet dat Abraham al lankal dood en in die Graf is. Die Skrif maak dit duidelik dat niemand in die Graf, of Sjeool, kan praat nie, insluitende Abraham (Prediker 9:5, 10). Wat dink hierdie godsdiensleiers bedoel Jesus dan met hierdie illustrasie? Wat probeer hy dalk sê omtrent die gewone mense, asook omtrent die godsdiensleiers, wat lief is vir geld?
Jesus het nou net gewys dat daar ’n verandering gaan wees deur te sê dat ‘die Wet en die woorde van die profete bekend gemaak is totdat Johannes op die toneel verskyn het, maar dat die Koninkryk van God van toe af as goeie nuus bekend gemaak word’. So wanneer Johannes en Jesus Christus met hulle predikingswerk begin, verander Lasarus en die ryk man se lewe.
Veral die nederige en arm mense is op geestelike gebied verwaarloos. Maar hulle word gehelp deur die boodskap van die Koninkryk wat eers deur Johannes die Doper en toe deur Jesus verkondig is en hulle reageer daarop. Voorheen moes hulle tevrede wees met die oorblyfsels wat ‘geval het van die geestelike tafel’ van die godsdiensleiers. Nou word hulle gevoed met noodsaaklike waarhede uit die Skrif, veral die wonderlike dinge wat Jesus verduidelik. Dit is asof hulle uiteindelik die goedkeuring van Jehovah God ervaar.
In teenstelling hiermee weier die ryk, magtige godsdiensleiers om die Koninkryksboodskap te aanvaar wat Johannes bekend gemaak het en wat Jesus regoor die land verkondig het (Matteus 3:1, 2; 4:17). Om die waarheid te sê, hulle is woedend, of gepynig, deur die boodskap, wat verwys na ’n naderende oordeel deur God (Matteus 3:7-12). Die godsdiensleiers, wat lief is vir geld, sal verlig wees as Jesus en sy dissipels ophou om God se boodskap bekend te maak. Hierdie leiers is soos die ryk man in die illustrasie wat sê: “Vader Abraham, betoon genade aan my, en stuur Lasarus om die punt van sy vinger in water te steek en my tong af te koel, want ek is in pyn in hierdie vlammende vuur.” – Lukas 16:24.
Maar dit gaan nie gebeur nie. Die meeste van die godsdiensleiers sal nie verander nie. Hulle het geweier om ‘hulle te steur aan die woorde van Moses en die profete’, wat hulle moes help om te aanvaar dat Jesus die Messias en Koning is wat deur God gestuur is (Lukas 16:29, 31; Galasiërs 3:24). Hulle is ook nie nederig genoeg om hulle te laat oortuig deur die arm mense wat Jesus aanvaar het en nou God se goedkeuring het nie. Maar Jesus se dissipels kan die waarheid nie afwater om die godsdiensleiers tevrede te stel of aan hulle verligting te gee nie. In sy illustrasie beeld Jesus dit uit deur die woorde wat “vader Abraham” vir die ryk man sê:
“Kind, onthou dat jy in jou lewe baie goeie dinge geniet het, terwyl Lasarus slegte dinge ontvang het. Nou word hy egter hier vertroos, maar jy is in pyn. En behalwe dit alles is daar ’n groot kloof tussen ons en julle, sodat niemand van hier af na julle toe kan oorgaan nie en ook niemand van daar af na ons toe kan kom nie.” – Lukas 16:25, 26.
Dit is reg en gepas dat so ’n drastiese verandering plaasvind! Die rolle word omgeruil van die trotse godsdiensleiers en die nederiges wat Jesus se juk aanvaar en uiteindelik geestelik verfris en gevoed word (Matteus 11:28-30). Die verandering sal oor ’n paar maande selfs duideliker wees wanneer die Wetsverbond deur die nuwe verbond vervang word (Jeremia 31:31-33; Kolossense 2:14; Hebreërs 8:7-13). Wanneer God heilige gees tydens Pinkster 33 HJ uitstort, sal dit heeltemal duidelik wees dat dit Jesus se dissipels is wat God se goedkeuring het, nie die Fariseërs en hulle godsdiensbondgenote nie.