HOOFSTUK 29
Mag iemand op die Sabbat iets goeds doen vir ander?
-
JESUS PREEK IN JUDEA
-
HY GENEES ’N SIEK MAN BY ’N BAD
Jesus het baie uitgerig gedurende sy groot bediening in Galilea. Maar hy is nie van plan om net in Galilea te preek nie, want hy sê: “Ek moet die goeie nuus van die Koninkryk van God ook aan ander stede bekend maak.” Daarom gaan preek hy ook “in die sinagoges van Judea” (Lukas 4:43, 44). Dit is ’n goeie tyd om dit te doen, want dit is nou lente, en daar gaan ’n fees in Jerusalem wees.
In vergelyking met wat ons lees oor Jesus se bediening in Galilea, is daar min inligting in die Evangelieverslae oor sy werk in Judea. Al reageer die mense in Judea oor die algemeen negatief, keer dit Jesus nie om ywerig te preek en goeie werke te doen waar hy ook al is nie.
Kort voor lank is Jesus op pad na Judea se hoofstad, Jerusalem, vir die Pasga van 31 HJ. In die besige gebied naby die Skaappoort is daar ’n groot bad met pilaargange wat Betsata genoem word. Baie mense wat siek, blind of verlam is, kom na hierdie bad toe. Hoekom? Want baie mense glo dat iemand gesond kan word as hy in die bad klim wanneer die water begin beweeg.
Dit is nou die Sabbat, en Jesus sien ’n man by hierdie bad wat al 38 jaar lank siek is. Jesus vra: “Wil jy gesond word?” Die man antwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit wanneer die water begin beweeg nie, en wanneer ek probeer inklim, klim iemand anders voor my in.” – Johannes 5:6, 7.
Jesus sê iets wat sekerlik verbasend is vir die man en enigiemand anders wat dit hoor: “Staan op! Tel jou slaapmat op en loop” (Johannes 5:8). Die man word onmiddellik gesond en doen presies wat Jesus sê! Hy tel sy slaapmat op en begin loop.
In plaas daarvan dat die Jode bly is vir die man, sê hulle vir hom: “Dit is die Sabbat, en jy mag nie die slaapmat dra nie.” Die man antwoord hulle: “Dieselfde man wat my gesond gemaak het, het vir my gesê: ‘Tel jou slaapmat op en loop’” (Johannes 5:10, 11). Hierdie Jode is krities teenoor iemand wat ander op die Sabbat genees.
“Wie is die man wat vir jou gesê het: ‘Tel dit op en loop’?” wil hulle weet. Hoekom vra hulle die man hierdie vraag? Want “Jesus het in die skare verdwyn”, en die man wat gesond gemaak is, weet nie wat Jesus se naam is nie (Johannes 5:12, 13). Maar hierdie man sal Jesus weer teëkom. Later ontmoet die man Jesus in die tempel en vind hy uit wie hom by die bad genees het.
Die man wat genees is, gaan na die Jode wat wou weet wie hom gesond gemaak het. Hy sê vir hulle dat dit Jesus was. Wanneer die Jode dit hoor, gaan hulle na Jesus toe. Wil hulle weet hoe Jesus in staat is om sulke wonderlike dinge te doen? Nee. Hulle wil eerder foutvind met Jesus omdat hy goeie dinge op die Sabbat doen. En hulle begin hom selfs vervolg!