LES 11
Hoe jy die meeste uit jou Bybellees kan kry
Wou jy al ooit ’n groot projek begin, maar toe het jy gevoel dat dit te moeilik is? Om dit makliker te maak, het jy dit dalk stukkie vir stukkie gedoen. Dit is ook so wanneer dit by Bybellees kom. Jy wonder dalk: ‘Waar begin ek?’ In hierdie les sal ons na ’n paar eenvoudige dinge kyk wat jy kan doen wat jou sal help om dit te geniet om die Bybel te lees en te studeer.
1. Hoekom moet ons die Bybel gereeld lees?
’n Persoon wat die Bybel, of “die wet van Jehovah,” gereeld lees, sal gelukkig en suksesvol wees. (Lees Psalm 1:1-3.) Om te begin, probeer om elke dag net ’n paar minute lank te lees. Hoe beter jy God se Woord leer ken, hoe meer sal jy dit geniet om jou Bybel te lees.
2. Wat sal jou help om die meeste uit jou Bybellees te kry?
As ons die meeste uit ons Bybellees wil kry, moet ons stop en dink oor wat ons lees. Ons moet dit lees en “daaroor nadink” (Josua 1:8). Terwyl jy lees, vra jouself vrae soos: ‘Wat vertel dit my van Jehovah God? Hoe kan ek dit in my lewe gebruik? Hoe kan ek hierdie tekste gebruik om ander te help?’
3. Hoe kan jy tyd maak om die Bybel te lees?
Sukkel jy om tyd te kry om die Bybel te lees? Baie van ons sukkel hiermee. Probeer om “die beste gebruik van [jou] tyd” te maak (Efesiërs 5:16). Jy kan dit doen deur ’n spesifieke tyd te kies om die Bybel elke dag te lees. Sommige mense lees die Bybel vroeg in die oggend. Party doen dit later in die dag, miskien gedurende hulle middagete. En ander lees die Bybel in die aand voordat hulle gaan slaap. Wat sal vir jou die beste tyd wees?
SOEK DIEPER
Leer hoe om jou Bybellees interessanter te maak. Kyk hoe jy goed kan voorberei sodat jy die meeste uit jou Bybelstudie kan kry.
4. Leer om Bybellees te geniet
Dit is dalk nie maklik om die Bybel te begin lees nie. Maar jy kan leer om Bybellees te geniet, net soos jy kan leer om kos te geniet wat jy nog nooit voorheen geëet het nie. Lees 1 Petrus 2:2, en bespreek dan hierdie vraag:
-
As jy die Bybel elke dag lees, dink jy dat jy dit sal geniet en dat jy dit selfs meer sal wil lees?
Speel die VIDEO om te sien hoe party mense dit begin geniet het om die Bybel te lees. Bespreek dan die volgende vrae.
-
Waarmee het die jongmense in die video gesukkel?
-
Wat het hulle gehelp om aan te hou om die Bybel gereeld te lees?
-
Hoe het hulle hulle Bybellees interessanter gemaak?
Wenke wat jou kan help om te begin:
-
Kies ’n betroubare vertaling wat moderne taal gebruik. Probeer die Nuwe Wêreld-vertaling as dit in jou taal beskikbaar is.
-
Begin met ’n deel van die Bybel wat jy dink die interessantste sal wees. Om idees te kry, sien die tabel “Lees die Bybel elke dag”.
-
Merk af wat jy gelees het. Gebruik die tabel “Hoe jy met jou Bybellees vorder” in hierdie boek.
-
Gebruik die JW Library®-app. As jy die app op ’n slimfoon of ’n ander elektroniese toestel afgelaai het, kan jy dit gebruik om die Bybel op enige plek te lees en daarna te luister.
-
Gebruik die bykomende inligting in die Nuwe Wêreld-vertaling. Daar kan jy kaarte, tabelle en ’n woordelys kry wat jou Bybellees nog interessanter kan maak.
5. Berei voor vir jou Bybelstudie
Lees Psalm 119:34, en bespreek dan hierdie vraag:
-
Hoekom is dit goed om te bid voordat jy die Bybel lees of voordat jy vir jou Bybelstudie voorberei?
Hoe kan jy die meeste uit elke Bybelstudie kry? Terwyl jy ’n les in hierdie boek voorberei, probeer die volgende:
-
Lees die eerste paragrawe van die les.
-
Soek die tekste op en lees dit, en probeer verstaan hoe die tekste by die inligting pas.
-
Merk die woorde wat elke vraag beantwoord. Dit sal jou help om die les met jou Bybelstudiehouer te bespreek.
Het jy geweet?
Jehovah se Getuies het al ’n hele paar verskillende Bybelvertalings gebruik. Maar ons hou veral van Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling, want dit is akkuraat, dit is duidelik en dit gebruik God se naam. – Sien die web-artikel “Het Jehovah se Getuies hulle eie Bybel?”
PARTY MENSE SÊ: “Dit is te veel werk om die Bybel te studeer. Ek het nie die tyd of die energie nie.”
-
Wat dink jy?
WAT ONS GELEER HET
Om die meeste uit jou Bybellees te kry, moet jy tyd maak daarvoor, God vra om jou te help om te verstaan wat jy lees en voorberei vir jou Bybelstudie.
Hersiening
-
Wat sal jou help om die meeste uit jou Bybellees te kry?
-
Wanneer kan jy tyd maak om die Bybel te lees en te studeer?
-
Hoekom is dit goed om vir jou Bybelstudie voor te berei?
LEER MEER
Kyk na ’n paar idees wat jou kan help om meer uit jou Bybellees te kry.
“Hoe om meer uit jou Bybellees te kry” (Die Wagtoring, nr. 1 2017)
Kyk na drie maniere om die Bybel te lees.
“Hoe kan die Bybel my help? — Deel 1: Leer ken jou Bybel” (Web-artikel)
Vind uit hoe jy dit kan geniet om die Bybel te lees.
“Hoe kan die Bybel my help? — Deel 2: Maak Bybellees lekker” (Web-artikel)
Kry ’n paar studiewenke by mense wat die Bybel al jare lank lees.