9 DESEMBER 2024
KANADA
Drie geskiedkundige uitstallings open by takkantoor in Kanada
In 2024 het drie uitstallings oor die Bybel en die teokratiese geskiedenis van Jehovah se Getuies in Kanada by die takkantoor in Kanada geopen. Twee van die uitstallings wys hoe die Bybel se boodskap in Kanada versprei het. Die derde uitstalling wys hoe Bybelstudente wêreldwyd gedurende die tydperk vanaf 1914 tot 1919 getoets is.
Die uitstalling “Die lig van waarheid verlig die Kanadese landskap” help besoekers om meer te leer oor die geskiedenis van Jehovah se Getuies oor die afgelope 150 jaar in Kanada. Dit sluit voorwerpe in wat wys hoe moedige mans en vrouens alles gedoen het wat hulle kon om die Bybel se boodskap oor ’n baie groot gebied te verkondig. Die uitstalling wys ook hoe die Getuies die goeie nuus aan mense van alle kulture verkondig het deur middel van hulle vertaalwerk, insluitende onder Kanada se inheemse bevolking.
Die uitstalling bevat ook verskillende lewensverhale oor mense wat volhard het ondanks baie moeilike tye, soos ’n verbod op ons werk en gevangenskap. Deel van die uitstalling is die motiverende regsoorwinnings wat die reg van Getuies om te preek, beskerm het en die fundamentele burgerregte van alle Kanadese gewaarborg het. Nadat ’n broer ’n toer van die uitstalling gedoen het, het hy gesê: “Die foto’s en ondervindinge van die broers en susters wat die weg gebaan het vir ware aanbidding in Kanada, moedig my aan om hulle moed en volharding in my eie lewe na te volg.”
Die uitstalling “Die woord van ons God bly vir ewig – Die Bybel in Kanada” bevat ’n versameling Bybels wat aan ’n paar van die vroeë Bybelstudente behoort het wat gehelp het om die goeie nuus regoor Kanada te versprei. Hierdie Bybels is van een generasie na die volgende oorgedra en het baie mense gehelp om Bybelwaarhede in verskillende tale te leer.
Die uitstalling sluit verskillende Bybels in wat belangrik is in Kanadese geskiedenis, soos ’n Bybelvertaling van John Henry White wat baie skaars is. Dit is die eerste volledige Bybelvertaling wat in Kanada gedruk is, en minder as tien kopieë bestaan nog. Daar is ook oorspronklike Bybels wat wys hoeveel moeite daar oor die jare gedoen is om die Bybel se boodskap in die volgende inheemse tale te vertaal: Inoektitoet, Massachusett, Mi’kmaq, Mohawk, Ojibwa en Wes-Cree.
Laastens beskryf ’n spesiale uitstalling met die naam “Moed om vas te staan in ’n tyd van beproewing” die bedrywighede en integriteit van die vroeë Bybelstudente gedurende die laat 1800’s. Dit wys ook die baie uitdagings wat hulle gehad het, wat begin het gedurende die Eerste Wêreldoorlog in 1914 en aangehou het tot 1919. Die uitstalling sluit af deur te wys hoe hierdie ondervindinge daardie getroue Bybelstudente versterk en gehelp het vir die werk wat nog voorgelê het.
Broer Kevin Knaus, ’n lid van die Takkomitee in Kanada, het gesê: “Hierdie drie uitstallings beklemtoon die ryk geestelike erfenis van Jehovah se Getuies in Kanada. Maar nog belangriker, dit bevestig dat ‘die woord van Jehovah vir ewig bly’ en wys hoe hy aanhou om die goeie nuus aan alle soorte mense beskikbaar te maak.” – 1 Petrus 1:25.