Spring na inhoud

Die Bestuursliggaam moedig Getuies in Rusland en die Oekraïne aan

Die Bestuursliggaam moedig Getuies in Rusland en die Oekraïne aan

“Die liefde wat aan ons betoon is, was oorweldigend!” Dit is hoe ’n vrou in die Oekraïne gereageer het nadat sy geluister het na ’n belangrike brief wat deur Stephen Lett van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies voorgelees is. Sy was een van die 165 000 Getuies wat na broer Lett se toesprake geluister het toe hy die land op die naweek van 10 en 11 Mei 2014 besoek het.

Bybeltoesprake en die voorlesing van daardie brief is in vyf tale getolk, en omtrent 700 Koninkryksale regoor die Oekraïne was vir die verrigtinge ingeskakel.

Dieselfde naweek het Mark Sanderson, wat ook ’n lid van die Bestuursliggaam is, die brief gelees as deel van ’n program wat vir ons broers regoor Rusland aangebied is. Hierdie program is in 14 tale getolk, en 180 413 in meer as 2 500 gemeentes in Belarus en Rusland was daarvoor ingeskakel.

Die brief, wat van die Bestuursliggaam gekom het, is gerig aan alle gemeentes in Rusland en die Oekraïne. Broer Sanderson het dit in Russies gelees, wat die Russiese takkantoor beweeg het om te skryf: “Die broers en susters is diep getref omdat die Bestuursliggaam soveel belangstelling in hierdie deel van die wêreldveld toon. Ons almal voel asof die Bestuursliggaam ons ’n groot drukkie gegee het.”

Die doel van die brief was om die Getuies in die streek waar daar politieke onrus is, te vertroos en te versterk. Dit het die broers aangespoor om “geen deel van die wêreld” te bly deur hulle neutraliteit ten opsigte van die wêreld se politieke geskille te handhaaf.—Johannes 17:16.

Met daardie doel in gedagte het die Bestuursliggaam die Getuies aangespoor om ’n hegte verhouding met Jehovah te behou deur middel van gebed, studie en bepeinsing oor God se Woord. Die gehoor is daaraan herinner dat ongeag watter toetse hulle die hoof moet bied, hulle vertroue kan stel in die onfeilbare goddelike belofte in Jesaja 54:17: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie.”

Die Bestuursliggaam het hulle brief afgesluit met die woorde: “Ons is baie lief vir julle almal. Wees asseblief verseker dat ons baie aan julle dink en dat ons ten behoewe van julle smeekbedes tot Jehovah doen.”

Die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Oekraïne het aangaande hierdie besoek geskryf: “Die broers was oorweldig deur die liefdevolle sorg en aandag van die Bestuursliggaam. Die feit dat broer Lett en broer Sanderson op dieselfde naweek in die Oekraïne en Rusland was, het die eenheid van God se volk beklemtoon en vir die broers getoon hoeveel Jehovah en Jesus vir hulle omgee. Ons almal het saamgestem dat dit die regte tyd vir ’n besoek was, en ons voel versterk om voort te gaan om Jehovah te dien ten spyte van enige beproewinge wat ons verduur.”