IS DIT ONTWERP?
Die dolfyn se sonar
Dolfyne maak ’n verskeidenheid klik- en fluitgeluide en luister dan na hoe dit weerklank sodat hulle hulle rigting kan vind en hulle omgewing kan leer ken. Wetenskaplikes is besig om die ontwerp van die natuurlike sonar van die stompneusdolfyn (Tursiops truncatus) te gebruik om onderwater-klankstelsels te ontwikkel wat probleme oplos wat tegnologie op die oomblik nie kan doen nie.
Dink hieraan: Die dolfyn se sonar help dit om vis te kry wat in die sand op die seebodem wegkruip en om tussen ’n vis en ’n rots te onderskei. Volgens Keith Brown, ’n medeprofessor by die Heriot-Watt-universiteit in Edinburg, Skotland, kan die dolfyn ook “die verskil tussen houers met vars water, soutwater, stroop en olie vanaf [’n afstand van] tien meter sien”. Wetenskaplikes wil graag toestelle ontwikkel wat dieselfde kan doen.
Navorsers het die geluide wat dolfyne maak, asook hulle gehoor in diepte bestudeer en dit probeer naboots. Die resultaat was ’n sonar-toestel vol gesofistikeerde elektronika wat in ’n silinder van minder as een meter pas. Die toestel is vasgemaak aan ’n robotiese onderwater-voertuig en lyk soos ’n torpedo. Dit is ontwerp om die seebodem te deursoek en items te kry wat begrawe is, soos kabels of pyplyne, en dit te analiseer sonder om direkte kontak te maak. Die mense wat die toestel ontwikkel het, beplan om dit in die olie- en gasbedryf te gebruik. Die sonar wat deur die dolfyn geïnspireer is, behoort ’n groter verskeidenheid inligting bymekaar te maak as wat sonar-toestelle op die oomblik kan doen. Dit sal tegnikusse help om onderwater-toerusting op die beste plek te sit. Dit sal hulle ook help om vas te stel of daar enige skade is, soos baie fyn krakies in die strukture wat olieboortorings ondersteun, en om selfs verstoppings in pyplyne te kry.
Wat dink jy? Het die stompneusdolfyn se sonar deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?