Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Maak Jehovah se hart bly’

‘Maak Jehovah se hart bly’

131ste Gileadgraduering

‘Maak Jehovah se hart bly’

FAMILIE en vriende het op 10 September 2011 byeengekom om die graduering van die 131ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon. Aan die begin van die dag het die sprekers en die studente se maag op ’n knop getrek van senuwees. Maar teen die einde van die program het al 9 063 wat teenwoordig was, ontspanne geglimlag nadat hulle die toesprake, demonstrasies en onderhoude geniet het.

Stephen Lett, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies en die voorsitter van die program, het die openingstoespraak gehou. Hy het Bybeltekste ondersoek wat te kenne gee dat Jehovah God ’n figuurlike liggaam het en die aandag gevestig op verse wat bespreek hoe Jehovah sy figuurlike oë, ore, hande en arms gebruik.

Eerstens het die spreker 2 Kronieke 16:9 bespreek, wat sê dat Jehovah “se oë . . . die hele aarde [deurloop] om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is”. Die studente is aangemoedig om ’n hart te behou wat ten volle toegewy is aan Jehovah. Daar is vir hulle gesê dat hulle God kan navolg deur na die goeie in mense te soek. Daarna het broer Lett 1 Petrus 3:12 bespreek, wat sê dat Jehovah se ore tot die regverdiges se smeking is. Hy het die studente aangespoor om die kommunikasiekanale oop te hou en te onthou dat Jehovah werklik wil hê dat hulle in gebed met hom moet praat.

Die spreker het ook Jesaja 41:13 ondersoek, waar Jehovah die volgende belofte maak: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’” Broer Lett het met hartlike opregtheid gesê: “Let op hierdie roerende woorde van Jehovah. Hy strek sy hand uit om ons hand te neem.” Hy het toe vir die studente gesê om Jehovah altyd toe te laat om hulle te help en hulle nooit te verset wanneer hy hulle probeer help nie. Hy het ook gesê dat die studente Jehovah kan navolg deur ’n helpende hand aan ander uit te reik.

Laastens het broer Lett Jesaja 40:11 gelees. Hy het die gehoor genooi om hulle die tere geneentheid voor te stel wat deur hierdie teks uitgebeeld word. “Jehovah neem ons in sy arms”, het broer Lett gesê. “Hy dra ons in sy boesem.” Hoe moet ons daarop reageer? Die studente is vermaan om so saggeaard soos ’n lammetjie te bly sodat Jehovah hulle in sy boesem sal wil dra.

‘Ons het hierdie skat in erdehouers’

David Splane van die Bestuursliggaam het hierdie skriftuurlike tema bespreek (2 Korintiërs 4:7). Wat is die skat? Is dit dalk kennis of wysheid? “Nee”, het die spreker geantwoord. “Die skat waarvan die apostel Paulus gepraat het, is ‘hierdie bediening’ waardeur ‘die waarheid openbaar [gemaak word]’” (2 Korintiërs 4:1, 2, 5). Broer Splane het die studente daaraan herinner dat die vyf maande wat hulle aan studie gewy het, hulle vir ’n spesiale toewysing in die bediening voorberei het. Daardie toewysing is iets waaraan groot waarde geheg moet word.

Die spreker het verduidelik dat die “erdehouers” na ons vleeslike liggame verwys. Hy het ’n erdehouer teenoor ’n houer gestel wat van goud gemaak is. Houers wat van goud gemaak is, word nie baie gebruik nie. Maar erdehouers is gemaak om gebruik te word. As ons ’n skat in ’n houer plaas wat van goud gemaak is, sal ons die houer dalk net soveel as die skat daarin bewonder. “Julle wil nie die aandag op julleself vestig nie”, het broer Splane vir die studente gesê. “As sendelinge wil julle mense na Jehovah rig. Julle is beskeie erdehouers.”

Die spreker het op die vergelyking voortgebou en gesê dat party erdehouers wat in Bybeltye gebruik is, bestand was teen vuur en dat party ’n harde glasuurlaag gehad het wat voorkom het dat stukkies van die houer afsplinter. Die punt? Die sendelinge sal ongetwyfeld gedurende die eerste maande in hulle toewysing as ’t ware ’n harde glasuurlaag ontwikkel. Hulle sal minder gevoelig word vir kritiek, minder geneig om aanstoot te neem. “Julle sal agterkom dat julle sterker is as wat julle dink”, het broer Splane gesê. Jehovah het hierdie skat, die bediening, nie aan engele toevertrou nie, maar aan erdehouers. “Dit toon dat Jehovah vertroue in julle het”, het die spreker ten slotte gesê.

‘Saam met voetgangers het jy gehardloop—kan jy ’n wedloop teen perde hardloop?’

“Hoe ver en hoe vinnig kan jy hardloop?”, het Samuel Herd van die Bestuursliggaam gevra. Waarom het hy die studente hierdie vraag gevra? Die spreker het die ondervindinge van die studente vergelyk met dié van die profeet Jeremia. Daardie getroue man het dit moeilik gevind om die uitdagings die hoof te bied waarmee hy te kampe gehad het. Maar groter beproewinge het voorgelê. Jehovah het hom dus gevra: “Omdat jy saam met voetgangers gehardloop en hulle jou moeg gemaak het—hoe kan jy dan ’n wedloop teen perde hardloop?”—Jeremia 12:5.

Broer Herd het hierdie punt op die studente toegepas en gesê: “Julle voel dalk dat julle ’n wedloop teen perde gehardloop het omdat julle soveel eksamens geskryf het. Maar julle het eintlik teen voetgangers gehardloop, nie teen perde nie. In julle toewysings gaan julle teen perde hardloop, met ander woorde, julle gaan met groter uitdagings te kampe hê as wat julle julle vandag kan voorstel. Hoe sal julle vaar? Gileadopleiding het julle voorberei om teen perde te hardloop en nie moeg te word nie.” Hy het die studente aangemoedig om aan te hou om geestelik te oefen deur ’n goeie roetine van Bybelstudie en gebed te handhaaf.

Broer Herd het erken dat party wat as sendelinge uitgestuur word, nog met ontmoediging of onverskilligheid te kampe sal hê. Ander sal siek word of gevoelens van onbekwaamheid ondervind. Maar hy het die studente verseker dat hulle ’n bron van krag het wat hulle in die wedloop sal help sodat geen slegte situasie hulle sal onderkry of sal laat moeg word nie. “Hetsy julle teen voetgangers of perde hardloop”, het die spreker gesê, “vertrou dat God se magtige hand julle oor die eindstreep sal help. Dan sal julle suksesvolle sendelinge tot lof en eer van Jehovah wees.”

Ander glanspunte van die program

“Moenie net ’n paar kry nie.” John Ekrann, ’n lid van die Verenigde State se Takkomitee, het die verslag bespreek van die profeet Elisa en ’n weduwee wie se seuns weggeneem en as slawe verkoop sou word (2 Konings 4:1-7). Die weduwee het net ’n klein kruik vir olie gehad. Elisa het vir haar gesê om nog kruike van haar bure te kry en gesê: “Moenie net ’n paar kry nie.” Deur middel van Elisa het Jehovah al die kruike wat die weduwee bymekaargemaak het, wonderdadig met olie gevul. Die weduwee het die olie toe verkoop en genoeg geld gemaak om haar skuld te betaal en haar gesin ’n ruk lank te onderhou.

Watter lesse kon die voornemende sendelinge uit hierdie verslag leer? Toe die weduwee die ekstra houers bymekaargemaak het, was sy waarskynlik nie uitsoekerig nie. “Enige houer wat olie kon hou, sou vir haar goed genoeg wees”, het die spreker gesê, “en waarskynlik hoe groter hoe beter.” Broer Ekrann het die studente toe aangespoor om enige en elke toewysing te aanvaar, hetsy groot of klein. “Moenie uitsoekerig wees nie”, het hy gesê. Hy het die studente ook daaraan herinner dat die mate waarin die weduwee geseën is, direk verband gehou het met hoe noukeurig sy Elisa se instruksies gevolg het. Sy punt? Die aantal seëninge wat ons ontvang, hou direk verband met hoeveel ywer en geloof ons aan die dag lê. “Moenie laks wees nie”, het die spreker gesê.

“Hulle is brood vir ons.” William Samuelson, opsiener van die Teokratiese Skole-afdeling, het hierdie tema ontwikkel, wat op Numeri 14:9 gebaseer is. Hy het die aandag gevestig op die goeie voorbeeld wat Josua en Kaleb gestel het. Die woord “brood”, soos dit hier gebruik word, het daarop gedui dat die inwoners van Kanaän maklik verower kon word en dat die ondervinding Israel kon versterk, dat dit hulle die krag kon gee om voort te gaan. Watter les kon die studente hieruit leer? Die spreker het gesê: “Beskou uitdagings wat julle in julle toekomstige geestelike bedrywighede sal teëkom as iets wat julle sal versterk, wat julle die krag sal gee om voort te gaan.”

“Sal hulle skip van geloof stewig geanker wees in die storms wat voorlê?” Sam Roberson, een van die instrukteurs, het die apostel Paulus se waarskuwing bespreek dat party “skipbreuk gely het wat hulle geloof betref” (1 Timoteus 1:19). Hy het die studente aangespoor om ander te help om geloof aan te kweek wat stewig in Jehovah God geanker is. “Julle werk”, het hy gesê, “kan met dié van ’n ystersmid vergelyk word.” Hoe so? ’n Ystersmid las die skakels van ’n ketting aanmekaar wat ’n skip veilig kan anker. Net so help sendelinge Bybelstudente om geestelike eienskappe aan te kweek wat nodig is vir redding.

Die spreker het die skakels in ’n ketting vergelyk met die agt eienskappe wat in 2 Petrus 1:5-8 genoem word. Broer Roberson het gesê dat as sendelinge hulle Bybelstudente help om te sien hoe Jehovah hierdie eienskappe openbaar, daardie studente waarskynlik onbreekbare gehegtheid aan Jehovah sal ontwikkel. Hulle sal enige storm van teëspoed deurstaan wat hulle geloof dalk sal toets.

Ondervindinge en onderhoude

Michael Burnett, nog een van die instrukteurs, het die Gileadstudente gevra om van hulle onlangse velddiensondervindinge te vertel en te demonstreer. Die gehoor was verheug om te hoor hoe van die studente vir mense getuig het by ’n winkelsentrum, by ’n lughawe, in die deur-tot-deur-bediening en dat hulle selfs vir iemand wat die verkeerde nommer geskakel het, kon getuig.

Michael Hansen van die Amerikaanse Bethelgesin het toe ’n onderhoud gevoer met drie mans wat jare van ondervinding as sendelinge het—Stephen McDowell in Panama, Mark Noumair in Kenia en William Yasovsky in Paraguay. Hulle kommentare het die tema van hierdie deel, “Skep behae daarin om Jehovah se wil te doen”, beklemtoon (Psalm 40:8). Mark Noumair het byvoorbeeld spesifieke dinge genoem wat hom en sy vrou vreugde verskaf het terwyl hulle in hulle toewysing gedien het. Die vriendskappe wat hulle met plaaslike Getuies gesmee het, was ’n bron van groot blydskap vir die egpaar. Ander redes vir vreugde was onder andere om te sien hoe die broers instruksies volg, hoe hulle groot veranderinge in hulle lewe maak en hoe Jehovah hulle pogings seën. Hy het die studente verseker dat hulle grootste vreugdes nog voorlê.

Nadat ’n lid van die 131ste klas ’n brief gelees het wat die studente se waardering pragtig uitgespreek het, het broer Lett die program afgesluit deur die gegradueerdes aan te moedig om wyslik op te tree. As hulle dit doen, het hy gesê, sal hulle “Jehovah se hart bly maak”. Hierdie sendelinge sal Jehovah se hart beslis bly maak terwyl hulle hom getrou in hulle toewysings dien.—Jesaja 65:19.

[Tabel/Kaart op bladsy 31]

KLASSTATISTIEK

10 lande verteenwoordig

34,7 gemiddelde ouderdom

19,0 gemiddelde jare gedoop

13,5 gemiddelde jare in die voltydse bediening

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die klas is na die lande hieronder gestuur

KLASTOEWYSINGS

BENIN

BRASILIË

BULGARYE

BURUNDI

KAMEROEN

KANADA

SENTRAAL-AFRIKAANSE REPUBLIEK

DUITSLAND

GHANA

HONG KONG

INDONESIË

KENIA

LIBERIË

LITAUE

MALEISIË

MOSAMBIEK

NEPAL

PANAMA

PARAGUAY

SIERRA LEONE

SLOWAKYE

SUID-AFRIKA

VERENIGDE STATE VAN AMERIKA

VENEZUELA

[Prent op bladsy 30]

Gileadstudente demonstreer een van hulle velddiens- ondervindinge

[Prent op bladsy 31]

131ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer en word die name van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Lesch, C.; Lesch, N.; Shakarjian, P.; Shakarjian, T.; Budden, R.; Budden, K.; Nash, T.; Nash, L.

(2) Tremblay, E.; Tremblay, C.; Garvey, D.; Garvey, G.; Gaunt, R.; Gaunt, P.; Lau, J.; Lau, J.

(3) Davis, S.; Davis, S.; Sargeant, J.; Sargeant, J.; Fonseca, C.; Fonseca, S.; Thenard, E.; Thenard, A.

(4) Petratyotin, A.; Petratyotin, R.; Reyes, N.; Reyes, N.; Eisiminger, B.; Eisiminger, S.; Hacker, J.; Hacker, C.

(5) Hartman, E.; Hartman, T.; Goolia, W.; Goolia, K.; Thomas, J.; Thomas, E.; Okazaki, N.; Okazaki, M.

(6) Mills, C.; Mills, A.; Benning, L.; Benning, T.; Sobiecki, S.; Sobiecki, T.; Gagnon, L.; Gagnon, E.

(7) Hansen, B.; Hansen, M.; Fahie, A.; Fahie, M.; Dalgaard, J.; Dalgaard, J.; Andersson, M.; Andersson, R.