Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel—’n Merkwaardige verhaal van oorlewing

Die Bybel—’n Merkwaardige verhaal van oorlewing

DIE Bybel is die boek met die grootste verspreiding in die geskiedenis—na skatting is 4,8 miljard eksemplare reeds versprei. In 2007 alleen is meer as 64 600 000 eksemplare gedruk. Om dit in perspektief te sien, moet jy in gedagte hou dat die eerste oplaag van daardie jaar se topverkoper van fiksieboeke 12 miljoen in die Verenigde State beloop het.

Gedurende die tyd dat die Bybel die wêreld se mees gepubliseerde boek geword het, het dit baie bedreigings oorleef. Deur die geskiedenis heen is dit verbied en verbrand, en diegene wat aan die vertaling daarvan gewerk het, is onderdruk en doodgemaak. Een van die grootste bedreigings vir die voortbestaan van die Bybel was egter nie die intense vervolging nie, maar die stadige vervalproses. Waarom?

Die Bybel is ’n versameling van 66 kleiner boeke, waarvan die oudste meer as 3 000 jaar gelede deur lede van die nasie Israel geskryf of saamgestel is. Die oorspronklike skrywers en dié wat die geskrifte oorgeskryf het, het die geïnspireerde boodskappe opgeteken op bederfbare materiale, soos papirus en leer. Nie een van die oorspronklike geskrifte is al ontdek nie. Maar duisende ou afskrifte van klein en groot dele van die boeke van die Bybel is al gevind. ’n Fragment van een van hierdie boeke, die Evangelie van Johannes, dateer uit ’n tydperk net ’n paar dekades nadat die oorspronklike dokument deur die apostel Johannes geskryf is.

“Die akkuraatheid waarmee die teks van die Hebreeuse Bybel [Ou Testament] oorgedra is, is uitsonderlik, sonder gelyke in Griekse en Latynse klassieke literatuur.”—Professor Julio Trebolle Barrera

Waarom is dit merkwaardig dat enige afskrifte van die Bybel behoue gebly het? En hoe akkuraat gee moderne Bybels die boodskappe weer wat deur die oorspronklike skrywers opgeteken is?

Wat het van ander antieke dokumente geword?

Dat die Bybel behoue gebly het, is ’n wonderwerk in die lig van wat gebeur het met die geskrifte van ander nasies van die Israeliete se tyd. Die Fenisiërs was byvoorbeeld gedurende die eerste millennium VHJ een van die Israeliete se buurnasies. Hierdie handelaars op see het hulle alfabetiese skryfstelsel dwarsdeur die Mediterreense gebied versprei. Hulle het ook wins gemaak uit ’n lewendige handel in papirus met Egipte en die Griekse wêreld. Nietemin sê die tydskrif National Geographic aangaande die Fenisiërs: “Hulle geskrifte, meestal op bederfbare papirus, het vergaan—sodat ons die Fenisiërs nou hoofsaaklik deur middel van die bevooroordeelde verslae van hulle vyande ken. Hoewel die Fenisiërs na bewering ’n ryk literatuurskat gehad het, het dit heeltemal verlore gegaan in die Oudheid.”

Wat van die geskrifte van die eertydse Egiptenare? Die hiërogliewe wat hulle op tempelmure en elders gegraveer of geverf het, is welbekend. Die Egiptenare is ook daarvoor bekend dat hulle papirus as skryfmateriaal ontwikkel het. Maar aangaande Egiptiese verslae wat op papirus geskryf is, sê die Egiptoloog K.A. Kitchen: “Na raming het ongeveer  99 persent van alle papiri wat vanaf circa 3000 tot die begin van die Grieks-Romeinse tyd geskryf is, heeltemal vergaan.”

Wat van Romeinse dokumente wat op papirus geskryf is? Kyk na hierdie voorbeeld. Volgens die boek Roman Military Records on Papyrus is Romeinse soldate blykbaar drie keer per jaar betaal, en ’n aantekening van die betaling is op papirussalarisstrokies gemaak. Daar word geskat dat daar gedurende die 300 jaar vanaf Augustus (27 VHJ–14 HJ) tot Diokletianus (284-305 HJ) 225 000 000 individuele salarisstrokies was. Hoeveel het behoue gebly? Net twee is gevind wat leesbaar is.

Waarom het so min antieke dokumente wat op papirus geskryf is, behoue gebly? Bederfbare materiaal, soos papirus en nog ’n algemene skryfmateriaal, leer, vergaan gou in ’n vogtige klimaat. The Anchor Bible Dictionary sê: “As gevolg van die klimaat sal papirusdokumente van hierdie tydperk [die eerste millennium VHJ] waarskynlik net behoue gebly het as hulle in ’n droë woestyn en in ’n grot of beskutte plek was.”

Wat van die Bybeltekste?

Die oorspronklike Bybelboeke is blykbaar geskryf op net sulke bederfbare materiaal as dié wat die Fenisiërs, Egiptenare en Romeine gebruik het. Waarom het die inligting in die Bybel dan behoue gebly sodat dit die wêreld se mees gepubliseerde boek geword het? Professor James L. Kugel verstrek een rede. Hy sê dat die oorspronklike geskrifte “selfs in die Bybelse tydperk baie, baie keer” oorgeskryf is.

Hoe vergelyk moderne vertalings van die Bybel met ou manuskripte? Professor Julio Trebolle Barrera, ’n lid van die span deskundiges wat die opdrag gegee is om die ou manuskripte wat as die Dooie See-rolle bekend staan, te bestudeer en te publiseer, sê: “Die akkuraatheid waarmee die teks van die Hebreeuse Bybel oorgedra is, is uitsonderlik, sonder gelyke in Griekse en Latynse klassieke literatuur.” Die gerespekteerde Bybelgeleerde F.F. Bruce sê: “Die bewyse vir ons Nieu-Testamentiese geskrifte is oneindig groter as die bewyse vir baie geskrifte van klassieke skrywers, en niemand sal droom om die egtheid daarvan te bevraagteken nie.” Hy sê verder: “As die Nuwe Testament ’n versameling van sekulêre geskrifte was, sou daar oor die algemeen geen twyfel oor die egtheid daarvan bestaan het nie.” Die Bybel is inderdaad ’n merkwaardige boek. Ruim jy tyd in om dit elke dag te lees?—1 Petrus 1:24, 25.

Daar bestaan vandag nog sowat 6 000 handgeskrewe afskrifte van die Hebreeuse Geskrifte, of Ou Testament, en sowat 5 000 afskrifte van die Griekse Geskrifte, of Nuwe Testament