Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vetsug—Wat is die oorsake?

Vetsug—Wat is die oorsake?

Vetsug—Wat is die oorsake?

“Ons is in die middel van ’n epidemie wat ernstige gevolge vir die gesondheid van ons kinders kan inhou. As die samelewing nie nou iets daadwerkliks doen om voorkomende maatreëls in te stel nie, sal vetsug bly toeneem.”—William J. Klish, professor in kindergeneeskunde.

SOMMIGE wat nie ’n gewigsprobleem het nie, is geneig om krities te wees teenoor mense wat oorgewig is of aan vetsug ly en hulle as mense met swak wilskrag en onvoldoende motivering te beskou. Maar is die probleem so eenvoudig? Is vetsuglyers lui mense wat enige fisiese oefening vermy? Of is daar in baie gevalle ander verreikende oorsake wat moeiliker is om te beheer?

Erflikheid? Omgewing? Of albei?

Die boek Food Fight sê: “Daar word al lank gedebatteer oor die oorsaak van vetsug, of dit deur genetiese faktore of deur die omgewing veroorsaak word.” Wat word in hierdie konteks deur genetiese faktore bedoel? Party steun die teorie dat die mens se liggaam van nature oortollige kilojoules berg vir moontlike toekomstige behoeftes. Dieselfde bron sê verder: “Die genetiese faktore van vetsug word al dekades lank bestudeer. . . . Baie navorsing is al oor menslike gene en vetsug gedoen. Gesofistikeerde tegnieke word gebruik om gene te identifiseer wat mense vatbaar maak vir gewigstoename en kwale soos suikersiekte. Volgens wetenskaplikes kan 25 tot 40 persent van die variasie in die liggaamsgewig van die bevolking deur gene verklaar word.” Die boek gaan voort: “Wanneer ’n mens in ag neem dat vetsug gewoonlik aan persoonlike swakheid toegeskryf word, beklemtoon hierdie syfers hoe belangrik biologiese faktore is, maar 60 persent of meer van die oorsaak kan nogtans aan die omgewing toegeskryf word.” Dit beteken dat die persoon se lewenswyse nog steeds ’n belangrike rol speel wanneer dit by vetsug kom. Neem die persoon meer kilojoules in as wat hy of sy elke dag verbrand? Eet hy of sy dikwels die verkeerde kossoorte? Word tyd elke dag opsygesit vir matige oefening?

Die Mayo-kliniek verduidelik die oorsaak van vetsug in eenvoudige taal: “Gene kan ’n faktor wees wat tot oorgewig of vetsug kan lei, maar jou liggaamsgewig word uiteindelik deur jou dieet en fisiese aktiwiteit bepaal. Op die lange duur lei die inname van oortollige kilojoules, ’n onaktiewe lewenswyse of ’n kombinasie van die twee tot vetsug.” (Ons kursiveer.) Dieselfde bron sê voorts: “Dit is nie ’n uitgemaakte saak dat jy oorgewig gaan wees as gevolg van wat jy geërf het nie. . . . Ongeag wat jou gene sê, dit is uiteindelik die keuses wat jy maak in verband met wat jy eet en hoe aktief jy is, wat jou gewig sal bepaal.”

Die gewigsverliesbedryf maak miljoene rande terwyl desperate mense hulle figuur probeer terugkry. Maar wat sê deskundiges oor hierdie diëte? “Vetsug is baie moeilik om te behandel, en die meeste mense wat gewig afskud, tel dit weer op”, sê die boek Food Fight. “Die mees optimistiese skattings is dat 25 persent [een uit vier] gewig verloor en dit nie weer optel nie, en dit verg dikwels baie probeerslae.”

Die gevare van vetsug

Vetsug kan tot ernstige gesondheidsprobleme aanleiding gee. Dr. Scott Loren-Selco, ’n neuroloog aan die Universiteit van Suid-Kalifornië se Mediese Sentrum, waarsku selfs jongmense wat aan vetsug ly, teen die gevaar van Tipe 2-diabetes. (Sien die Ontwaak! van 8 Mei 2003.) Hy sê: “Deesdae sien ons dit baie, en glo my, dit is skrikwekkend. Ek sê vir [vetsugpasiënte] dat ek hulle na die suikersiekteafdeling toe wil neem om vir hulle te wys wat hulle toekoms moontlik sal wees: die blindes, dié waarvan ’n ledemaat afgesit is, die tallose mense wat heeltemal verswak is weens tipe 2[-diabetes]—en almal van hulle ly aan vetsug.” Wat is een bydraende faktor? “Hulle kan supergroothamburgers en aartappelskyfies bekostig—en daarom koop hulle dit”, sê Loren-Selco. “Niemand sê vir hulle dat dit ongesond is nie—beslis nie die kitskosmaatskappye nie, en om eerlik te wees, beslis nie die meeste dokters nie, wat nog steeds nie in dieetkunde opgelei is nie.”

Dr. Edward Taub, ’n welbekende skrywer oor dieetkundige sake, sê: “Dit het in onlangse tye mode, en selfs polities korrek, geword om te glo dat dit net ’n normale en aanvaarbare deel van die moderne lewe is om oorgewig te wees. Dit is waarlik ’n verstommende prestasie in openbare betrekkinge deur die sakeondernemings wat daarop floreer om ons vet te voer.”

Deskundiges sê dat diegene wat “peervormig” is, met meer vet op die heupe, dalk gesonder is as dié wat “appelvormig” is, met vet om die buikorgane (veral as die middellyf meer as 90 tot 100 sentimeter is). Waarom? Want “vet in jou buikgedeelte vergroot die gevaar van hoë bloeddruk, koronêre hartvatsiekte, suikersiekte, beroerte en sekere soorte kanker”, sê die boek Mayo Clinic on Healthy Weight. “As jy peervormig is—groot heupe, dye en boude—is jou gesondheidsrisiko’s nie so hoog nie.”

Wat is dus die oplossing vir die miljoene volwassenes en kinders oor die hele wêreld wat oorgewig is en die gevaar loop om ernstige gesondheidsprobleme op te doen? Is daar ’n doeltreffende oplossing?

[Venster/Tabel op bladsy 5]

Wat is LMI? Wat sê dit vir jou?

LMI (liggaamsmassaindeks) is ’n lengte:gewig-verhouding wat iemand kan help om vas te stel of hy oorgewig is of reeds aan vetsug ly. Volgens die Mayo-kliniek word ’n LMI-syfer van 18,5 tot 24,9 as die gesondste beskou. As jou LMI tussen 25 en 29,9 is, is jy oorgewig. As jou LMI enigsins meer as 30 is, ly jy aan vetsug. Wat is jou LMI volgens die tabel? Moet jy dalk dokter toe gaan vir raad of om bevestiging van jou toestand te kry?

Om jou LMI uit te werk, neem jou gewig in kilogram en verdeel dit deur jou lengte in meter, verdeel dan die antwoord weer deur jou lengte in meter. Byvoorbeeld, as jy 90 kilogram weeg en 1,8 meter lank is, is jou LMI 28 (90 ÷ 1,8 ÷ 1,8 = 28).

[Tabel]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Gesond Oorgewig Vetsugtig

LMI 18,5-24,9 25-29,9 30 of meer

Lengte Gewig in kilogram

1,47 m 53 of minder 54-64 65 of meer

1,50 56 of minder 57-67 68 of meer

1,52 57 of minder 58-69 70 of meer

1,55 59 of minder 60-71 72 of meer

1,57 61 of minder 62-73 74 of meer

1,60 63 of minder 64-76 77 of meer

1,63 66 of minder 67-79 80 of meer

1,65 67 of minder 68-81 82 of meer

1,68 70 of minder 71-84 85 of meer

1,70 72 of minder 73-86 87 of meer

1,73 74 of minder 75-89 90 of meer

1,75 76 of minder 77-91 92 of meer

1,78 79 of minder 80-94 95 of meer

1,80 80 of minder 81-97 98 of meer

1,83 83 of minder 84-100 101 of meer

1,85 85 of minder 86-102 103 of meer

1,88 89 of minder 90-106 107 of meer

1,90 90 of minder 91-108 109 of meer

[Erkenning]

Aangepas uit Mayo Clinic on Healthy Weight

[Venster op bladsy 5]

Wat is ’n kilojoule?

Hoe word ’n kilojoule gedefinieer? Dit is ’n standaardeenheid van hitte-energie. Wanneer jy sweet, gebruik jy dus kilojoules, of hitte-energie. ’n Kilojoule is gelyk aan 0,23 kalorieë. ’n Kalorie is die hoeveelheid hitte wat nodig is om die temperatuur van een kilogram water met presies een graad Celsius te verhoog. Elkeen se daaglikse behoefte aan kilojoules, of energie, is anders, afhangende van faktore soos hoe lank, swaar, oud en aktief hy is.

[Venster/Prent op bladsy 6]

Jy lei ’n onaktiewe lewe as jy

◼ Die grootste deel van die dag sit—voor die TV of by ’n lessenaar of in ’n voertuig—met ander woorde, nie rondbeweeg nie

◼ Selde meer as 100 meter op ’n slag loop

◼ ’n Werk het waarin jy nie fisies aktief is nie

◼ Nie ten minste een keer per week 20 tot 30 minute lank oefen nie

[Erkenning]

Gebaseer op Mayo Clinic on Healthy Weight