Van ons lesers
Van ons lesers
Weer Ek skryf om julle te bedank vir die reeks “Wat gebeur met die weer?” (8 Augustus 2003). Ek was verbaas oor die stelling: “Ten spyte van al die benoudheid wat sulke rampspoedige gebeure meebring, kan dit ’n positiewe uitwerking hê.” Ek moes egter daarmee saamstem toe ek die volgende sin lees: “Dit kan mense beweeg om liefde en besorgdheid teenoor hulle naaste te betoon.” Ons ondervind elke dag allerhande benoudhede—en nie net rampe nie. Ek wil in gedagte hou dat enigiets wat gebeur ook ’n positiewe sy kan hê.
S. T., Japan
Noodleniging Ek het die artikel “Iets wat geen storm kon wegspoel nie” (8 Augustus 2003) gelees. Die wyse waarop Jehovah se Getuies die noodsituasies hanteer het wat deur natuurrampe veroorsaak is, het my waardering vergroot vir die feit dat ek ’n deel van hierdie organisasie is. Dankie vir sulke artikels, wat ons help om eienskappe te openbaar wat geen storm kan wegspoel nie.
M. P., Italië
Ek het self ’n hele paar rampe deurgemaak, waaronder vloede en aardbewings. In 1989 was daar ’n aardbewing terwyl ek van deur tot deur getuig het. ’n Jong 14-jarige seun wat saam met my was, het paniekerig geraak en begin hardloop! Ek het hom by die hand gevat en gebid dat hy moet kalm bly. Sekondes later het kragdrade oral om ons geval. Mense was paniekbevange! My eie huis het ’n groot kraak in die betonvloer gehad. Maar daardie selfde middag nog het ons weer in die huis-tot-huis-bediening uitgegaan en ander mense aangemoedig. Watter herinneringe het hierdie artikel tog teruggebring!
B. S., Verenigde State
Baie dankie vir aanmoedigende artikels soos “Iets wat geen storm kon wegspoel nie”. Ek het gehuil terwyl ek dit gelees het. Daar is ongetwyfeld geen storm wat ons liefde vir ons mede-Christene en ons onselfsugtige liefde vir ons naaste kan wegspoel nie.
I. A., Japan
Dwelmmisbruik Baie dankie vir die reeks “Dwelmmisbruik in die gesin—Wat kan jy doen?” (8 April 2003). Ek studeer die Bybel al ’n geruime tyd saam met Jehovah se Getuies, maar omdat ek hierdie probleem het, kon ek nie geestelike vooruitgang maak nie. Nadat ek die venster “Hulp vir dié wat dwelms probeer opgee” gelees het, het ek besef dat daaglikse Bybellees en die toepassing van Bybelbeginsels my sal help om dit op te gee. Die wete dat God regtig vir my omgee, het ook ’n verskil gemaak.
R.S.A., Brasilië
Gespanne kinders Ek wil graag my diepe waardering uitspreek vir die reeks “Kinders—Word hulle te gou groot?” (22 April 2003). Dit is net wat ek nodig gehad het. As ’n enkelmoeder en voltydse bedienaar het ek ’n baie veeleisende rooster. Ek wonder dikwels: ‘Is ek ’n goeie ma? Verwag ek te veel van my dogter?’ Dit is goed om te weet waar ek kan verbeter. Ek wil my dogter se kinderjare nou geniet, en ek wil hê sy moet dit ook geniet. Hoewel ek al julle artikels opbouend vind, is artikels soos dié vir my baie aanmoedigend.
M.D.E., Mexiko
’n Kind soek na God Ek is 11 jaar oud. Ek het die artikel “Ek wil meer oor Jehovah uitvind” (22 April 2003) gelees. Dit was bemoedigend om te lees dat ’n meisie wat net ’n jaar ouer as ek is, die moeite gedoen het om van Jehovah te leer. Nou wil ek uitgaan en vir ander getuig.
J. T., Japan