Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

Die Haïtiaans-Kreoolse veld

Die Haïtiaans-Kreoolse veld

Die werk in die Haïtiaans-Kreoolse veld

Die Spaanssprekende veld was nog altyd baie produktief. Maar mettertyd het mense wat ander tale praat, na die land getrek en ook gunstig op ons boodskap van hoop gereageer. In die naburige Haïti is Haïtiaanse Kreools die hooftaal. Hoewel die verhouding tussen die Dominikaanse Republiek en Haïti soms gespanne was, maak duisende Haïtiane ’n groot deel van die arbeidsmag in die Dominikaanse Republiek uit, en in onlangse tye het hulle getalle drasties toegeneem.

Belangstellendes wat Haïtiaanse Kreools praat, is jare lank na Spaanse gemeentes gerig vir geestelike hulp. Maar om beter in die geestelike behoeftes van hierdie mense te voorsien, het die Bestuursliggaam in 1993 die takkantoor in Guadeloupe gevra om spesiale pioniers in hulle gebied te nooi om in die Haïtiaans-Kreoolse veld in die Dominikaanse Republiek te dien. Barnabé en Germaine Biabiany was een van die drie egpare wat aangebied het om te trek. “Ons het eers net twee brosjures in Haïtiaanse Kreools gehad”, sê Barnabé. “Al die ander lektuur was in Frans, en daarom moes ons alles uit Frans in Haïtiaanse Kreools vertaal.”

In Januarie 1996 was daar nege verkondigers in Higüey en tien verkondigers in Santo Domingo wat bereid was om ’n Haïtiaans-Kreoolse groep te ondersteun. ’n Groep is dus in elkeen van hierdie stede gevorm, en mettertyd het albei groepe gemeentes geword. Hierdie gemeentes is egter later ontbind, aangesien baie Haïtiane blykbaar Spaans wou leer en dus verkies het om na ’n Spaanse gemeente te gaan. Barnabé verduidelik: “Ons het met die broers van die Diensafdeling vergader, en dit het raadsaam gelyk om die werk in die Haïtiaans-Kreoolse veld tot tyd en wyl te staak.”

Die werk in die Haïtiaans-Kreoolse veld word hervat

In 2003 het die Bestuursliggaam ’n sendelingegpaar, Dong en Gladys Bark, aangewys om in die Haïtiaans-Kreoolse veld in die Dominikaanse Republiek te dien. Hulle het twee jaar in die gebied in Higüey gewerk en het goeie resultate begin sien. Op 1 Junie 2005 is ’n Haïtiaans-Kreoolse gemeente gestig. Dong Bark, Barnabé Biabiany en nog ’n sendeling met die naam Steven Rogers het onvermoeid deur die hele land gereis om vir Haïtiaans-Kreoolssprekende mense te preek.

Die werk het goed gevorder, en nog gemeentes is gestig. Op 1 September 2006 is die eerste Haïtiaans-Kreoolse kring gevorm. Daar was sewe gemeentes en twee groepe, en Barnabé Biabiany het as die kringopsiener gedien.

In daaropvolgende jare is nog ’n hele paar sendelinge na die Dominikaanse Republiek gestuur om in die Haïtiaans-Kreoolse veld te werk. En baie ander vrywilligers uit Europa, Kanada, die Verenigde State en elders het kom help. ’n Span bekwame broers is aangewys om ’n taalkursus in Haïtiaanse Kreools vir buitelandse sowel as plaaslike broers en susters voor te berei.

Baie neem aan dat nie-Haïtiane wat Haïtiaanse Kreools praat, Jehovah se Getuies is

Die feit dat so baie Dominikaners die moeite doen om Haïtiaanse Kreools te leer, het ’n goeie uitwerking op die Haïtiane in die land. Wanneer ’n Dominikaanse verkondiger nou Bybelwaarhede in Haïtiaanse Kreools verduidelik, laat dit die huisbewoner ontspanne voel en skep dit ’n gunstige atmosfeer om die Koninkryksboodskap oor te dra. Soveel van ons broers het die taal geleer dat baie aanneem dat nie-Haïtiane wat Haïtiaanse Kreools praat, Jehovah se Getuies is.

Om toe te lig wat ’n kragtige uitwerking dit het wanneer belangstelling in mense van ’n ander kultuur getoon word, kyk na die ondervinding van ’n Dominikaanse pioniersuster wat ’n taalkursus in Haïtiaanse Kreools bygewoon het. Hierdie suster het ’n belangstellende Haïtiaanse egpaar in die bediening ontmoet. Sy het hulle weer besoek om ’n Bybelstudie te begin. Sy vertel: “Toe ek daar aankom, het ek die vrou gegroet deur haar op die wang te soen, volgens die gebruik onder vroue in die Dominikaanse Republiek. Die vrou het begin huil. Ek het haar gevra: ‘Wat’s fout?’ Sy het geantwoord: ‘Dit is die eerste keer in al die jare dat ek in hierdie land woon dat iemand my met ’n soen groet.’”

Jehovah se seën op die harde werk in hierdie veld het merkwaardige groei tot gevolg gehad. Teen 1 September 2009 was daar 23 Haïtiaans-Kreoolse gemeentes en 20 groepe, en daarom is ’n tweede kring gevorm. Die Gedenkmaalopkoms in 2011 het die potensiaal vir toekomstige groei getoon. Byvoorbeeld, die 11 verkondigers in die dorpie Río Limpio was verheug toe 594 hulle Gedenkmaal bygewoon het. En toe reëlings getref is om die Gedenkmaal in die dorp Las Yayas de Viajama te hou, waar daar geen verkondigers is nie, het 170 die Gedenkmaal bygewoon. Teen September 2011 was daar 33 gemeentes en 21 groepe in die Haïtiaans-Kreoolse veld. Daarom is daar in 2012 nog ’n kring gevorm.

Die takkantore in die Dominikaanse Republiek en Haïti het saamgewerk om broers in albei lande op te lei. Vyf klasse van die Bybelskool vir Ongetroude Broers sowel as vier klasse van die Bybelskool vir Christenegpare is in Haïtiaanse Kreools gehou.

’n Klas om Haïtiaanse Kreools te leer